Twee broers sterf: Was daar gif in die bier?
Twee Burger broers se dood, stories oor gif in ’n bier en ’n slang in ’n kombuis, laat die Blinkpan omgewing gons.
Barend Burger (wat die eienaar was van Farm Protek) is in Desember 2021 oorlede en Dirk Burger het in Oktober 2022 gesterf.
Beide mans het by die destydse, Die Eiland, langs die Blinkpan Dam, gebly, naby Middelburg.
Na die broers se dood het skinderstories so hand uitgeruk dat Tanya Burger (wat met Barend getroud was) vra dat dit gestaak word.
Hanlie Delport, wat vir ’n paar maande by Dirk (49) gebly het, tot met sy dood, sê “dat Dirk vermoor is”.
“Die paramedikus én die dokter het gesê hy het gif ingekry. Die dokter het na sy dood gesê dat dit ’n moordsaak is. Die polisie het ook ’n lykskouing aangevra.”
’n Geregtelike doodsondersoek is wel geopen, maar daar word nog gewag vir uitslae.
Me. Burger het snikkend gesê dat mense erg begin skinder het na Dirk se dood en haar skielik van Barend se dood beskuldig het.
Hulle het ook aannames gemaak dat sy betrokke was met Dirk se afsterwe.
“Van Dirk se dood af, het dit begin erg raak. Ek is moeg vir die geskinder! Hulle wil my nie uitlos nie. Hoekom sou ek Barend doodgemaak het? Almal het gesien hoe gelukkig ons was.”
Sy het erken dat sy en Dirk nie oor die weg gekom het nie, “maar dit beteken nié dat ek hom doodgemaak het nie! Ek was nie eers die dag daar toe hy siek geword het nie.”
Me. Burger sê mense hou nie op om haar te treiter nie.
“My en Barend se kinders is nog klein. Weet hulle wat doen dit aan ons kinders? Hoekom sou ek die man wou doodmaak wat so mooi na my en sy kinders gekyk het? Ons was gelukkig!”
Sy sê dat haar man in sy slaap aan ’n hartaanval dood is.
“Op sy doodsertifikaat staan dit dat hy aan natuurlike oorsake dood is!”
Op bewerings dat sy haar man “sommer die volgende dag veras het,” het sy hartseer geantwoord “dat ek die presiese stappe gevolg het wat mense doen na iemand se dood. Hy is ’n week later, toe ons die roudiens gehou het, veras.”
Sy en Barend was 17 jaar saam.
“Ek is moeg, daar is ’n God in die hemel wat weet hoe lief ek vir hom was. Ek weet wat ek weet!”
Me. Burger is oortuig daarvan dat haar man se broer self die gif gedrink het om selfmoord te pleeg.
“Ek was eenkeer by toe Barend ’n hek afgery het om by Dirk uit te kom toe hy gedreig het om selfmoord te pleeg deur gif te drink.

Dirk Burger
Na aanleiding van al die “stories wat in Blinkpan en Komatie Kragstasie rondloop” het me. Delport op haar beurt gesê dat sy weet van die bewerings dat haar lewensmaat self die gif gedrink het.
Sy het dit ten sterkste ontken.
“Dis nonsens, hy sou dit nie gedoen het nie.”
Sy glo iemand anders het vir hom gif ingegee.
“Dirk het die dag op 7 Oktober 2022 toe hy siek geword het, ’n bier gaan drink by die Saloon (voorheen Die Eilandkroeg). Hy het gesê die bier het ‘snaaks’ geproe. Vyf minute nadat hy by die huis gekom het, wou hy ’n ander bier drink, maar het dit net oopgemaak. Hy kon dit nie drink nie, want hy het te siek geword.”
Sy het gedetailleerd vertel hoe hy later inmekaar gesak het, wit skuim by sy neus en mond uitgekom het en hoe hy vir haar gesê het hy is lief vir haar.
Me. Delport het vir hulp gebel en ’n paar mense het kom help voor ’n ambulans opgedaag het.
“Iemand het gesê dit lyk of hy rocks (’n dwelmmiddel) ingekry het en dat hulle vir hom iets soets moet ingee. Hulle het vir hom Coca-Cola gegee. Ek het ook later gehoor dat ’n vrou ’n pil gegee het wat in Dirk se keel afgedruk is voor die ambulans gekom het.”
Die ontstellende gebeure van die aand herleef sy steeds elke dag.
Haar lewensmaat wat skuim opbring en rukkend op die bed lê met mense wat stapels komberse op hom pak en dan later weer afruk, omdat hy so geweldig sweet.
Dan die chaos wat losgebreek het toe ’n dronk man die ambulans aangeskakel en met tollende wiele al in die rondte buite gejaag het.
“Die paramedikuste moes vir ’n paar minute vir Dirk los, omdat hulle die man moes gaan keer!”
Voor hulle hom uitgedra het, het die paramedikus vir haar gesê dat hy “gif ingekry het.”
Dirk is in die Witbank Provinsiale Hospitaal opgeneem, waar dokters vir ’n dag en ’n half vir sy lewe geveg het.
“Hulle het nege keer in daardie tyd hom teruggebring as hy bykans gesterf het. Die laaste keer kon hulle hom egter nie terugbring nie.”
Me. Delport sê die dokter was ook oortuig dat hy gif ingekry het “en het vir my gesê dit is nou ’n moordsaak.”
Dit is duidelik dat daar ’n krapperigheid tussen die families is en die kroeg is ook toegemaak.
“Ek het die kroeg toegemaak, want ek is moeg vir die mense se geskinder,” sê me. Bruger.
Slang episode
Twee weke gelede was daar weer drama op die perseel toe me. Delport ’n slang in haar kombuis gekry het.
Slangvangers kon nie by haar uitkom nie en mnr. Stephan Grobler (Gemeenskap in Blou, voorheen gemeenskapspolisiëringsforum) het toestemming by die polisie gekry om die voorste hekslot te breek sodat die slang gevang kon word.
