News

Gholfsig inwoner deur vullisverwyderaars aangerand

’n Inwoner van Gholfsig sê hy is kort na 11:00 deur twee munisipale vullisverwyderaars aangerand omdat hy glo nie die drywer van die kompakteerder, wat hy te voet agterna gesit het, “behoorlik gegroet het nie”.

Mnr. Michael Engelbrecht sê dat hy die vullistrok agterna gesit het om by die werkers te hoor hoekom hulle nie meer die gewone swart asblikke se inhoud leegmaak nie.

Hy sê dat die drywer van die trok dadelik uitgeklim het met die vraag “waarom groet jy my nie ordentlik nie?”.

Mnr. Engelbrecht sê dat hy die drywer toe prontuit gevra het hoekom hulle nie die vullis in die swart asblikke verwyder nie.

Volgens hom het die drywer geantwoord dat hulle net die vullis in die groen stootdromme oplaai, voordat hy hom na bewering skielik aangeval het.
’n Kollega van die drywer het hierna ook glo op hom toegesak.

Mnr. Engelbrecht sê dat hy op geen stadium “lelik met die werkers was nie”.

Hy is van die teerpad in AG Visserstraat tot op die sypaadjie aangerand beweer hy.

Sy seun het hom te hulp gesnel en in die struweling is een van die vullistrok se ruite gebreek.

“My seun het met my voertuig tot by ons gery, waarna die drywer van die vullistrok my sleutels uit die aansluiter gegryp het”.

Die drywer het geweier om die sleutels terug te besorg, selfs toe dit begin reën het en mnr. Engelbrecht gepleit het dat sy voertuig se ruite toegemaak word.

Skrape aan mnr. Engelbrecht se lyf wat tydens die aanranding opgedoen is.

“Dis absolute misdadigheid, hulle weet hulle gaan daarmee wegkom, hulle doen dit al vir maande met die stakings,” sê mnr. Engelbrecht.

Die vullismanne het die munisipale wetstoepassers geskakel wat op pa en seun toegesak het.

Mnr. Engelbrecht sê as sy seun gearresteer word en iets in die tronk oorkom, hy die munisipaliteit en die polisie sal dagvaar.

“Ons is die slagoffers,” hou hy vol.

Die partye is tans by die polisiestasie.

Mnr. Engelbrecht sê hy sal regshulp inwin.

• Dit is die tweede soortgelyke klagtes die week.

Me. Tugela Boshoff het ’n klagte by die munisipaliteit ingedien nadat sy ook hulp by die burgersentrum geweier is, omdat sy kwansuis nie munisipale amptenare, wat gesit en eet en tee drink het met haar aankoms, gegroet het nie.

Die man en vrou het geweier om haar behulpsaam te wees, en ’n ander amptenaar wat later die kantoor binne gekom het, moes haar help.

Sy is voor die vernederende voorval verskeie maal deur die munisipaliteit weg gewys nadat sy ’n voorafbetaalde kragkaart wou heraktiveer weens ’n registrasiefout met een van haar huureiendomme meer as vyf jaar gelede.

Die eiendom se registrasie is intussen deur haar regsverteenwoordigers reggestel.

Die munisipaliteit sê me. Boshoff se klag word ondersoek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button