News

Michelle het ‘Sally’ agter gelaat

Michelle Pieterse was as ‘Sally’ een van die grootste dwelmverslaafdes in die dorp se strate, maar vandag is sy al ’n geruimde tyd skoon.

“Ek het op ’n stadium só baie crystal meth gebruik dat my gesig skeef getrek het,” het Michelle tydens haar getuienis by die Chainbreakers-groep gesê.

Sy het geld verdien met dwelms onder die straatnaam, Sally, en het ’n woonstel in Aerorand gehuur waar sy verslaafdes van kos en dwelms voorsien het.

Michelle het hulp gaan kry by by ’n rehabilitasiesentrum ses jaar gelede, waar sy ’n geestelike berader onder die verslaafdes geword het en haarself ook verder bekwaam het.

“Baie van die verslaafdes is kinders van die Here, maar hulle is gevangenes op straat, omdat demone hulle gevange hou.”
Michelle se dwelmpad het jonk begin.

Sy sê beide haar ouers was alkoholiste en sy moes as klein dogtertjie vir haarself ’n pad oopveg.

In ’n donker kamer waar sy toegemaak is, het sy “gedrogte uit mure sien kom”.
Haar ouers wou nie glo dat sy “dinge sien” nie en sy het talle kere pak gekry.

Op hoërskool het sy steeds vreemde goed gesien en haar onttrek, wat haar ongewild gemaak het. “Ek het gevoel ek pas nêrens in nie.”

Sy het “uitkoms” gesien toe sy op 15-jarige ouderdom by ’n partytjie “met iets te doen gekry het wat soos ’n appel lyk, wat hulle aan die brand gesteek het en wat ek moes inasem. Dit was dagga.”

Michelle het skielik nie meer alleen en depressief gevoel nie.

Na ’n erge traumatiese gebeurtenis (wat nie hier genoem kan word nie) het die “stemme weer erger begin word” en het haar lewe buite beheer afwaarts spiraal.
Sy het al hoe meer in nagklubs begin kuier en hordes van die “die dwelms met die papiertjies onder die tong” gebruik.

Michelle het soms vir dae weg gebly en het agtergekom dat dit haar ma (na haar pa se dood) nie in die minste pla nie.

Sy het uiteindelik weggeloop en by ’n man ingetrek wat haar voorsien het van elke moontlike tipe dwelm. Hy het haar ook by satanistiese plekke in eMalahleni ingeneem.

Michelle het in nagklubs plaaslik begin werk en gehou van die aandag wat sy as jong vrou gekry het as mans vir haar vertel hoe mooi sy is.
Sy is later getroud en het ’n seuntjie gehad.

“Ek was egter ’n stukkende vrou en het my man verneuk. Ek het ook die dwelms bo my kind gekies toe ek loop,” het sy met trane in haar oë gesê.

In 2010 het sy Middelburg se strate oorgeneem as “Sally”.

“Ek het báie dinge gedoen en hoe meer customers ek vir die dealers gebring het, hoe meer dwelms het ek gekry.”

Sy het weer ’n man, wat ook dwelms gebruik het, ontmoet en hulle was ’n rukkie skoon. Toe sy hom ’n week voor hul troue eendag tuis kry waar hy dwelms gebruik, het sy net weer saam met hom ingeval.

Een dag het sy tuis gekom en het hy geweldig baie heroïne gebruik.

“Ek het die demoon aangespreek en gevra dat hy ons moet los.”

Haar aanstaande man het op die grond neergeval, slanggeluide begin maak en ook soos ’n slang heen en weer op die grond geseil.

“Dit was asof ek in satan self vaskyk!”

Op 13 Augustus 2013 het sy probeer selfmoord pleeg.

“Dit het geslaag, want ek is drie keer dood verklaar. Terwyl ek besig was om dit te doen, het ek vir die eerste keer in jare weer met die Here gepraat en vir Hom gesê dat ek my hele lewe net pyn geken het en geen liefde nie.”

Michelle sê haar liggaam “was in ’n tronk vasgevang. Ek wou goed doen, maar ek kon nie en het gesteel en gelieg.”
Sy het weer begin demoniese gesigte sien en glo “hulle wou my doodmaak”.

‘Sally’ het eendag na ’n apteek in die dorp toe gejaag, naalde gesteel en na haar kar toe gehardloop.
Michelle wou ’n oordosis neem en het in die parkeerarea die dwelmmengsel aangemaak.

“Daardie dag het die Here gesê: ‘Nee, dit gaan nie in jou are in nie!”

Sy het paniekerig dit weer en weer aangemaak, maar dit wou net by die aar in nie.

Na al die vrugtelose pogings het sy begin huil “en besef die Here is lief vir my! Hy het my gered.”

Michelle het tans geen inkomste nie en die span van Chainbreakers bid saam met haar dat sy gou ’n werk sal kry.

“Dan kan sy na-ure al haar tyd aan die verslaafdes spandeer om hulle te help,” sê me. Elna Lewis (Chainbreakers).

Michelle het gesê dat “verslaafdes gee elke keer ’n offering as hulle spuit, hulle is slawe, en dit is die demone se mikpunt om hulle dood te maak.”
Michelle sê dit is belangrik dat mense verslaafdes nie moet wegstoot nie, “maar die kettings moet help breek en hulle liefde gee.”

Haar droom is om ’n halfweghuis in die dorp te begin, waar sy as berader met verslaafdes kan werk.
“Ek het geen idee wat die Here beplan nie, maar ek wil graag individueel met elkeen van hulle werk.”

Sy het baie empatie met elke verslaafde.

“Niemand besluit een oggend as hy opstaan om ’n verslaafde te wees nie…ek weet hoe hulle dink en het die vermoë om hulle te lei.”

Michelle het die gemeenskap gevra om saam met haar te bid en hande te vat “dat daar deure oopgemaak word vir hulle.”

• Me. Lewis het beaam wat sy gesê het en bygevoeg dat die dwelmprobleem in die dorp “nie ’n quick fix is nie. Ons kan egter ’n saadjie in die grond sit om te begin groei.”

• Die Chainbreakers groep vergader elke Maandag om 19:00 in een van die konferensiekamers van die Corpus Christi Kerk.

Verslaafdes aan drank, alkohol en ook ander verslawings soos pornografie, asook almal se families word uitgenooi om die vergaderings by te woon.

Vir navrae, bel me. Lewis by 082 556 4467.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button