Uit op ’n spookjag: Gaan Oom Bokkie sy verskyning maak?
Is daar ’n spook by Oregan Place Gastehuis?
Phoenix Paranormal South Africa, wat verlede jaar na die spook van die Langkloof plaashuis gesoek het, besoek die dorp weer vir ’n spookjag.
Hulle het inwoners uitgenooi om hulle te laat weet van ‘vreemde’ goed wat gebeur en me. Adéle Lamprecht, van Oregan Place, het hulle gekontak.
Me. Lamprecht, wat twee jaar gelede die gastehuise gekoop het, sê nie een van hulle het al regtig ’n ‘spook’ gesien nie, maar gaste het al genoem dat hulle veral in die ou deel “iets voel.”

’n Ander keer het ’n jong man aan die bedrading in die dak gewerk en “spierwit daar uitgeklim. Hy het gesê hy klim nooit weer in die dak nie.”
Verlede jaar het ’n man die gastehuis besoek en uitgevra “oor ’n dogtertjie se graf wat op die perseel was. Hy het gesê hy kan duidelik onthou dat daar ’n graffie van ’n dogtertjie was.”
Me. Lamprecht sê toe hulle die gastehuis gekoop het, was daar twee grafstene op die perseel wat plat gelê het, maar daar was geen name op die stene nie.
Hulle het rondgevra daaroor en is meegedeel dat daar jare gelede ’n grafsteenbesigheid was.

Sy het later ’n dek gebou bo-oor die stene, omdat dit te swaar was om te verwyder. Waar die stene gestaan het, was ’n druiweprieël.
Alhoewel me. Lamprecht self al na middernag ontvangs hanteer het, het sy nooit fisies iets gesien nie, maar het haar “hare orent gestaan toe ek iets gevoel het.”
• Die Minnaarfamilie, wat Minnaar Handel op die dorp bedryf het, het bykans 100 jaar gelede die huis gebou. Die kaggels en dakteëls is van oorsee af ingevoer en met ossewaens aangery.

• By die Middelburg Stasie sal daar onder andere gekyk word of hulle die spook met die bokkiebaard sal kan vind. Die ‘spook’ word al goedig ‘Oom Bokkie” genoem.
Verskeie mense wat in die aande by die kroeggedeelte gekuier het, het al ’n man met ’n bokkiebaard gesien.
Mnr. Johan Janse van Rensburg (Middelburg Stasie) sê daar is vir hom vertel dat daar jare gelede ’n moord was op die stasieperseel, ’n ander persoon tussen die spore geval en gesterf het en iemand selfmoord gepleeg het.

Daar is ook ’n “storie” van ’n kopbeen wat by die stasie begrawe is.
Hy sou graag meer oor die voorvalle wou weet of as iemand dalk al die spook by die stasie gesien het, kan hy gebel word by 063 657 4876.
