Groot familiedag met sangers gekanselleer oor Willem Kruger tragedie
Persone wat stalletjies bespreek het vir die jaarlikse Familie Piekniekdag en musiekkonsert by Henbase Lodge is teleurgesteld dat dit nie meer voortgaan nie weens die negatiewe publisiteit rakende die Willem Kruger tragedie.

Die Familie Piekniekdag is ’n groot finansiële inspuiting vir uitstallers en het hulle uitgesien om daar uit te stal.
“Ek het al my goedjies al gemaak vir die dag wat op 18 Maart by Henbase gehou sou word. Daar sou baie sangers optree en ons het geweet daar sou baie voete wees,” het die uitstaller, wat verkies om anoniem te bly, hierdie week gesê.
Die R500 wat sy vir haar stalletjie betaal het, is reeds terug betaal, maar sy sê sou veel eerder wou gaan uitstal.
Bekende sangers wat sou optree by die musiekkonsert sluit in: Leah, Robbie Wessels, Steve Hofmeyr, Brendan Peyper, Arno Jordaan, Bernice West, Dusty Dickson, Fatman, Jennifer Zamudio, Barto Swiegers en Droom Sindroom.
Mnr. Johan Claassen (eienaar, Henbase Lodge) het bevestig dat die familiedag gekanselleer is.
Hy het na aanleiding van wat gesê word rakende die media, wel gemeld dat die Middelburg Observer akkuraat oor die gebeure berig het.
Die verklaring lui as volg:
Insake Familie Piekniek 18 Maart.
1. Die ontydige en tragiese insident gedurende November 2022 waartydens mnr. Willem Kruger gesterf het, het die direksie van Henbase Lodge genoop om die beplande Familie Piekniek en gepaardgaande musiekkonsert en vertoning, beplan vir 18 Maart 2023, uit te stel.
2. Die insident voormeld, omringende en nagevolge het ’n wye reeks publikasies in die gedrukte, elektroniese en sosiale media tot gevolg gehad.
3. Verskeie vals, misleidende en negatiewe beriggewing, gerig onder andere op Henbase Lodge, het die lig gesien.
4. Hierdie vals, misleidende en negatiewe beriggewing ten opsigte van die lodge het die gevolg gehad dat verskeie rolspelers betrokke by die beoogde Familie Piekniek, hulle kommer uitgespreek het oor die voortsetting van die huidige omstandighede.
5. Synde die SAPD ondersoek na die insident, onafgehandel en in ’n sensitiewe stadium is, het die direksie van Henbase Lodge, in behoud van hulle voortdurende samewerking met die ondersoek, besluit om die Familie Piekniek uit te stel. Dit is ten einde die ondersoekers en alle belanghebbendes ’n geleentheid te gun om hierdie aspek af te handel in die gees van Henbase Lodge se verbintenis tot deursigtigheid, eerlikheid en betroubaarheid.
6. Verdermeer, is die belangte van borge, kunstenaars, deelnemers en besoekers in ag geneem en is daar deur die direksie besluit om sodanige belange, saam met die belanghebbendes by die ondersoek, se regte en belange voorop te stel, bo die belange van Henbase Lodge se kommersiële belange.
7. Uiteraard is daar ’n wye verskeidenheid van faktore wat aangelei het tot die besluit om die Familie Piekniek uit te stel, alles buite die beheer van die direksie van Henbase Lodge, waarvoor nietemin verskoning gevra word vir enige ongerief as gevolg daarvan.
