Industrie steier onder kabelvandalisme, swak munisipale reaksie
Besighede in die industriële gebied is raadop met die munisipaliteit wat hulle sê alleenlik verantwoordelik gaan wees vir ’n ekonomiese afname weens besigheid wat verlore gaan as gevolg van die konstante vandalisme en gevolglike diefstal van elektriese kabels by ’n mini-substasie op die hoeke van Liter- en Newtonstrate.
Die kragboks is al meer as tien maal sedert April verlede jaar verwoes.
Gisteraand was die derde maal sedert die begin van 2023 wat die mini-substasie geteiken is.
Die probleem is egter dat die besighede altyd tussen twee en vier dae sonder krag sit, totdat die munisipaliteit die kragboks weer herstel.
Kragopwekkers word ingespan, maar dit kos die besighede, wat tientalle arbeiders in diens het, derduisende om net te kan oopmaak en aangaan.
Die besighede wat geaffekteer word is almal in vervaardiging- en onderhoudsdienste.
Talle van die besighede, wat nie genoem wil word nie, behou verskeie patentregte op goedere wat nêrens anders vervaardig word nie.
“Ons kry geen hulp van die munisipaliteit wat residensiële areas bo besighede prioritiseer nie,” sê een van die eienaars.
Volgens hom het hulle al aangebied om ’n raamwerk om die mini-substasie vir die munisipaliteit te bou, en sleutels aan die munisipaliteit te verskaf, maar die aanbod word afgeskiet.
Daar is ook al deur die besighede aangebied om sekuriteit daar te plaas op hul onkonste, maar dit is ook verwerp.
Laat verlede jaar is die mini-substasie twee maal in ’n week verwoes.
Van die besighede wat sleg geaffekteer word, voer toerusting in wat nie net met beurtkrag nie, maar die konstante sabotasie van die netwerk, in die slag bly.
Die kriminele wag net tot beurtkrag inskop voordat hulle regdeur die dorp toesak op elektriese infrastruktuur.
Die munisipaliteit, wat ’n sterk wetgewersmag het, het boonop al gevra dat inwoners selfs munisipale infrastruktuur oppas.
Verlede jaar was die slag nog groter toe ’n kragkabel van meer as 30 meter by die mini-substasie gesteel is.
Die besigheidseienaar sê dat hulle nie na-uurs daar kan waghou nie, omdat een van die besighede al vantevore deur ’n wit BMW, sonder nommerplate en insittendes met balaklawas, ingewag is.
Hulle werkstye word reeds, waar moontlik, rondom beurtkrag beplan, en nie een van die betrokke besighede kan bekostig om enige ure meer te verloor nie.
“Ons werk op streng spertye met projekte en produkte,” kap die besigheidsman.
Hulle het al verskeie maal by die munisipaliteit gekla, maar sê “daar is geen begrip vir die wyer ekonomiese impak nie.”
“Kort voor lank pak ons op en trek en dan sit baie inwoners sonder werk,” waarsku die besigheidsman.
• Die klagtes is direk aan die Munisipale Bestuurder, mnr. Mandla Mnguni, deur die Middelburg Observer gestuur.
Hy het egter nog nie daarop gereageer nie.
• Die Middelburg Kamer van Koophandel en Nywerheid veg saam met die besighede vir ’n oplossing.
Daar is al voorgestel dat ’n Queenstown benadering gevolg moet word deur kragtoevoer na die industriële gebied vir twee dae per week af te skakel, en daarna glad nie weer nie.
“Dit werk vir hulle,” sê me. Anna-Marth Ott van die kamer.
• “Ons veg teen ’n bestel van vat, nie gee nie, die munisipaliteit moet bykom,” sê die besigheidsman.
