News

Jong Engelbrecht vrygelaat sonder hofverskyning na vullisonderonsie

Twee teenklagtes van aanranding is deur Engelbrecht senior teen die vullisverwyderaars gemaak.

Stefan Engelbrecht (32) is gister skielik omstreeks 11:00 uit aanhouding vrygelaat sonder om in die hof op ’n formele klag van opsetlike saakbeskadiging te verskyn.

Sy pa, Michael, wat Woensdag na bewering deur twee munisipale vullisverwyderaars aangerand is toe hy wou navraag doen oor hoekom hulle nie ander asblikke, as die toegekende groen munisipale stootdromme leegmaak nie, sê dat Stefan geen borg betaal het nie maar bloot laat gaan is.

Daar is vir hom gesê dat die voorval eers ondersoek sal word voordat die dossier vir beslissing na die hof gestuur word.

Daarna sal hy waarskynlik gedagvaar word om in die hof te verskyn, as staatsaanklaers voel dat daar wel ’n saak is vir Stefan om op te antwoord.

Stefan is Woensdag laatmiddag gearresteer nadat hy die vullisverwyderaars gekonfronteer het weens die aanranding van sy pa.

Engelbrecht senior was tuis toe sy seun die vullismanne agterna gesit het.

Hy het hulle in Totiusstraat gekonfronteer waar die onderonsie fisies geraak het.

Stefan het in die geveg een van die vullistrok se ruite uitgeslaan.

Twee teenklagtes van aanranding is deur Engelbrecht senior teen die vullisverwyderaars gemaak.

Die saak sal ook eers deeglik ondersoek word voordat dagvaardigings uitgereik word.

Mnr. Engelbrecht sê hy is skielik in AG Visserstraat deur die twee vullisverwyderaars geskop en geslaan nadat hy te voet agter die trok aan is om te hoor hoekom hulle nie sy swart asdrom leegmaak nie.

Hy is glo dadelik gevra hoekom hy nie groet nie, waarna die mans hom na bewering te lyf gegaan het.

Stefan het die nag in die selle deurgebring maar is ongedeerd sê sy pa.

Hy oorweeg siviele stappe teen die munisipaliteit.

Hy ontken ook ten sterkste die bewering dat R30 000 se skade aan die vullistrok aangerig is, “omdat my seun net die kantruit uitgemoker het”.

Mnr. Engelbrecht sê hy het in die eerste konfrontasie gesien dat die trok se windskerm en spieëls reeds beskadig of stukkend was.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button