Tweede heroïnverslaafde sterf op ’n sypaadjie
Die dwelmverslaafde Jarrid O’Connor is vanmiddag oorlede.
Op ’n sypaadjie waar hy dag vir dag gebedel het om sy heroïnverslawing te voer, het Jarrid O’Connor (33) vanmiddag gesterf.
Deur rou snikke het sy ouma, Margaret Berry (78) gesê dat personeel van ’n vulstasie naby die plek waar Jarrid vanmiddag dood in Germiston gekry is, haar laat weet het van sy afsterwe.
“Hulle het gedink hy slaap, maar het later gaan kyk en gesien hy haal nie meer asem nie.”
Toe sy laat vanmiddag die joernalis bel, het sy huilend gesê dat hulle steeds wag vir ’n ambulans om te kom om hom dood te verklaar.
Ouma Margaret het geweet haar pragtige kleinseun gebruik dwelms, maar sy het altyd gebid en geglo dat hy eendag weer vir rehabilitasie sal gaan om skoon te kom.
Sy het verlede jaar in Julie vir hom gaan kuier langs die hoofweg in Alberton (Gauteng) en vir hom ’n pastei en koeldrank gegee. Sy het ook vir hom hoofpynpille en verbande vir die sere op sy bene gegee. Hy was daardie dag al net vel en been.
Tydens haar laaste onderhoud het sy ook vertel hoe vuil hy was en dat hy nie bad of sy hare kam nie.
“Wat kan ek sê? Ek is so lief vir hom, maar dit is net dwelms, dwelms, dwelms. Hy wil nie luister nie,” het sy hartseer gesê.
Saterdag het hy haar weer gebel en gesê hy kry geweldige hoofpyne. Hy wou geld hê, maar sy het geweet hy gaan net weer dwelms koop. Dit was die laaste keer dat sy sy stem gehoor het.
Elke keer wat hy haar gebel het, was sy baie dankbaar, want sy het altyd gesê: “waar daar lewe is, is hoop.”

- Middelburgers sal vir Jarrid onthou; die vriendelike dwelmverslaafde vir wie daar gereël is om na ‘n rehabilitasiesentrum te gaan. Vir wie klere en geld geskenk is, maar dat hy net eenvoudig weggeloop het.
Hy was vir maande skoon by Hope Corner, maar het ook daar weer weggeloop.
Die laaste drie jaar was hy meestal in Gauteng.
- Hy was ’n rukkie in ’n Gautengse hospitaal ook, waar hy na behandeling vir sy bene en erge probleme met sy maag, baie beter gelyk het. Met sy ontslag is hy weer strate toe.
- Quinton Cloete is verlede week dood op ’n sypaadjie in Middelburg gekry. Hy was ook ’n heroïnverslaafde.
