
Terwyl daar gewag word op die regering het boere hande gevat om die Wonderfonteinpad te herstel.
Mnr. Ruan Walkinshaw van Klippan Boerdery sê dat hy en ’n ander boer, Danie van Eeden, klippe pak oor ’n droë rivierbedding op hulle plaas sodat bakkies ten minste verby kan gaan, nadat ’n gedeelte van die Wonderfontein en Hendrinapad weggespoel het.
Hulle besproeiingsdam se wal het gebreek, wat verspoelings veroorsaak het.

Ruan sê dat hy omstreeks 11:55 Sondagmiddag laat weet is dat die dam se wal meegegee het.
“Ons het die afgelope week ongelooflik baie reën gehad, en daar is 110 mm reën op Saterdagaand gemeet, voordat die wal gebreek het.”
Die dam het ongeveer 127 000 liter gehou, en bestaan al vir meer as 30 jaar.
Lees ook:
Ruan vertel dat die bars groot skade vir die boerdery veroorsaak het, omdat hulle minstens 150 hektaar se besproeiingswater kwyt is. Gelukkig het geen lande skade gely nie omdat al die water Klippan se kant toe gespoel het.
“Ons het probeer om ’n stapbruggie op te rig, sodat die skoolkinders ten minste oor kan klouter en by die skool uitkom maar na gisteraand se reën het dié ook weggespoel.”

Ruan glo ook dat die afwesigheid van basiese onderhoud op die pad, gelei het tot die skade.
“Die leivore onder die pad is vrot en daar was vir baie jare baklei met die regering om herstelwerk aan die pad te doen. As die leivore op standaard was sou die watermassa beter kon dreineer.”
• Volgens Ruan is die Department van Openbare Werke, Paaie en Vervoer bewus van die skade, en borde is opgesit om motoriste op die gevaar te wys. Daar is ook bewys dat die gemeenskap verskeie keer gekla het oor die toestand van die pad.


