News

Na motorfietsdiefstal probeer “polisieman” egpaar bedrieg

’n Egpaar was nie net die slagoffers van motorfietsdiewe nie, maar ’n dag later het ’n bedrieër ook probeer om geld uit hulle te swendel deur hom voor te doen as ’n polisieman.

Me. Tinkie du Preez sê sy het geen idee hoe die persoon, wat homself voorgedoen het as ’n polisieman, haar nommer in die hande gekry het nie.
Toe sy die saak aanmeld, was die polisie nie verbaas nie en het gesê dat dit gereeld gebeur.

Me. Du Preez en haar man se twee motorfietse, ’n silwer en swart 750cc Honda NC en ’n wit en swart BMW S1000RR is tussen 02:00-03:00 op 8 Februarie by hul huis in Populierstraat (Kanonkop) gesteel.

Die booswigte het hul tyd geneem en kringtelevisiemateriaal wys hoe hulle te werk gegaan het.

Een van die boewe loer direk vir die kamera.

Kort na 02:00 kan ’n mens die groep van drie mans sien waar hulle voor die palissadeheining staan en beraadslag.

Hulle probeer eers die hek van die spoor af kry, maar misluk, waarna een oor die muur spring en by die hekmotor gaan lê, terwyl sy makkers buite staan en wag.
Vir ’n hele paar minute kan ’n mens sien hoe hy met iets (waarskynlik ’n skroewedraaier) aan die binnekant met die hekmotor peuter.

Dan staan hy selfvoldaan op en skuif om 02:19 die hek vir die ander twee oop.

Sy gesig van nog nader gesien.

Hulle stap koes-koes tot by ’n kar voor die motorhuis, waar twee gebukkend na die motorhuis sluip en die derde een by die linker agterwiel sit en wag.

Almal het bokbaardjies.

Die twee wat die motorhuis oopforseer dra ’n mus en die ander een ’n keps met ’n baadjie met kappie bo-oor.

Die een langs die wiel het net ’n keps op.

’n Mens sien nie hoe die motorhuis oopforseer word nie, maar die een langs die wiel sit omtrent 20 minute, alvorens die ander twee uitkom met die motorfiets en hulle hom aldrie na buite stoot deur die opening in die hek.

Een hou wag by die linker agterwiel van die voertuig wat voor die motorhuis op die erf gestaan het.

Omtrent 20 minte later, om 2:52 keer hulle terug. Dié keer het een van die mans ’n klapmus op en wonder jy of hy deel was van die oorspronklike driestuks wat die een motorfiets uitgestoot het.

Minute later stoot hulle die tweede motorfiets uit die motorhuis by die hek uit.

Dit is duidelik dat hulle sukkel om die groot motorfiets te stoot en net buite die hek laat hulle die motorfiets lê, waarna hulle op die stuurstang spring om dit los te kry em dit makliker straataf te stoot.

Om 03:02 loop een van die diewe terug na die hek en stoot dit doodluiters toe.

Die drie diewe stoot die BMW motorfiets uit die motorhuis uit.

Me. Du Preez sê dat hulle omstreeks 03:30 agtergekom het hul motorfietse is gesteel en die polisie gekontak het.

“Ons het net op ons motorfiets WhatsApp groepie gesê ons motorfietse is gesteel. Ons het dit nie op ander sosiale media geadverteer nie.”

Net ’n dag later, het sy ’n oproep gekry van ’n man wat homself as sersant Mogale voorgestel het.
Hy het te vertel gehad dat hy die motorfietse by ’n skrootwerf in Middelburg opgespoor het.

Me. Du Preez was baie opgewonde, maar toe sy uitvra, het sy besef dit is ’n bedrieër.

Een van die drie boewe het toe hulle terugkeer vir die tweede motorfiets, ’n klapmus oor sy gesig gedra.

Hy het vir haar gesê die kostes om die motorfiets by hulle te kry is R2 000 en dat sy dit dadelik moet ‘Cash Transfer’.
Sy het hom aan ’n lyntjie probeer hou dat die ondersoekbeampte hom dalk kan opspoor.

Hulle het egter vir haar gesê dat sy in die bestek van net vier dae, die vyfde persoon is wat bykans ’n slagoffer was van die bedrieër.

Daar is vir haar gesê dat goedkoop fone, wat se nommers nie ge-“Rika” is nie, gebruik word en dan vinnig daarvan ontslae raak as hulle sien die polisie soek na hulle.

• Die Observer het mnr. Anthony Boucher (privaat ondersoeker, SA Investigations & Security) gevra of hy kan uitvind wie die persoon agter die oproep is na aanleiding van die nommer.

Hy het die stelsels tot sy beskikking gebruik om die nommer na te gaan en ook bevestig dat die nommer “nog nooit gebruik is nie. Ons noem dit ’n ‘Burner’ foon, want as hulle klaar geld gekry het by ’n slagoffer, gooi hulle dit eenvoudig weg.”

Sodra die slagoffer geld oorbetaal in enige maklike kontantoorbetaling, “dan trek hy net ’n jas aan en ’n hoed oor sy oë en gaan trek die geld by ’n bank. As die videomateriaal dan later nagegaan word, is die persoon onherkenbaar.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button