Brandweerman sit op knieë by beseerde pasiënt en wag vir ambulans
Omstanders bring komberse vir beseerde pasiënte, terwyl vir tweede ambulans gewag word.
‘n Brandweerman het vanoggend lank op sy knieë by ‘n ernstig beseerde pasiënt gesit, terwyl daar vir ‘n ambulans gewag is.
Een persoon is dood en ten minste vier beseer in ‘n trompop botsing omstreeks 06:20 sowat 15km buite Middelburg op die ou Belfastpad, net anderkant die Middelburgdam.

Die joernalis het sowat ‘n uur na die ongeluk op die toneel gekom en was die eerste ambulans reeds weg met die eerste twee pasiënte.

Nadat verskeie lede van die beskermingsdienste en ook die joernalis begin rondbel het vir ‘n tweede ambulans, het daar om 08:07 ‘n tweede ambulans opgedaag, waarna nog twee ambulanse kort daarna gestop het.

Een van die pasiënte, wat in die gras langs die voertuig, waarin die bestuurder van die kar dood is, gelê het, het erge gesigbeserings gehad en het die paramedici en brandweerman hom opgehelp tot by die ambulans.
Die brandweerman het sowat 40 minute by die man gesit en hom kalm gehou deur met hom te praat.

‘n Yswind het gewaai en het omstanders later twee komberse gebring om oor die twee beseerdes te gooi,.
Dieselfde omstanders en van die insleepdienste en brandweermanne het ook die oorledene se ma getroos en na ‘n voertuig gehelp nadat sy kort na die ongeluk op die toneel opgedaag het.






