Cobus Fourie: Suid-Afrika se nommer een ysterman
Numero Uno Yster! Ontmoet Suid-Afrika se nommer een Ysterman.

Cobus Fourie staan op die drumpel om geskiedenis te maak, wanneer hy Sondag aan die Isuzu Afrika kampioenskappe in Gqeberha deelneem.
Hy sal dan die enigste Suid-Afrikaanse driekamp atleet word wat 40 Ysterman kompetisies voltooi.
Die gewilde lid van Middelburg Fietsryklub en Middelburg Marathonklub se eerste Ysterman was op 26 Februarie 1983, toe daar 18km op die Hartbeespoortdam geroei is, 120km fiets gery en 42.2km op die ou Johannesburgpad gedraf is.
“Ek was die elfde laaste deelnemer wat klaargemaak het.”

Tydens die 1984 kompetisie het roeiers hom skepties aangekyk toe hy skielik sê: “Ek gaan nog in die top 10 eindig”.
Diegene wat die eksentrieke Fourie ken, sal weet dat hy nie bogpraatjies maak nie.
Hy het by sy woord gehou en spog met ’n vyfde, sesde en negende plek.
Maar het hy nooit daaraan gedink om op te gee nie? “Nee, nooit! Ek het al die bloedsmaak in my mond gehad maar sal nooit tou-opgee nie.”
Hy het een jaar deur die pyndrempel geworstel, nadat hy met sy fiets geval het op 35km, sy skouer ontwrig en sy sleutelbeen gekraak het. Met daardie seer skouer moes hy verder fietsry en ’n volle marathon klaarmaak.

Somtyds was die omstandighede onhoudbaar, soos die een jaar toe dit so warm was dat die teer gesmelt het. Deelnemers moes in die versengende hitte steeds voortbeur.
Die fietsrybeen was nog altyd sy sterkpunt, alhoewel hy al ’n 3;20 in die 42.2 gehardloop het.
En sy hoogtepunt?
Die antwoord is nie soos mens sou dink sy goue medaljes nie. “Dit was die eerste een wat ek voltooi het.”
Oor die eer om op die podium te staan in die top tien posisie is hy heel filosofies.
“Ek het gedink daai ouens kan spoorstawe buig. Hulle is Superman. Maar dit is nie soos nie. Ek het meer respek vir die deelnemers wat daar agter swaarkry. Maak nie saak waar jy eindig nie. Jy huil steeds, jy lag steeds, jy is soms eensaam, jy bly ’n gewone mens…”.
Die beskeie Yster sê oor sy prestasie: “Ek is nie goed nie, God het my net geseën.”

Sondag se uitdaging bestaan uit 3.8km swem, 180km fietsry en 42.2km draf.
Maar watter een is die strafste? Die ou roei driekamp van 1983 of die swem driekamp van 2023?
“Dit hang af of jy kopsterk of fisies sterk is. Die roei het groot eise aan jou ligaaam gestel. Elke hael in die water het jou getoets en jou bolyf was gedaan wanneer jy van die water af kom.”
En sy grootste motivering?
“Om mense te inspireer, veral jong mense.”
