
R10 000 is op die spel vir die persoon wat Mielie terugkry.
Mielie is die Australiaanse beeshond wat die land se hartsnare geroer het.
Die avontuurlustige Kevin Ruthven se verhaal het vinnig die nasionale media gehaal toe Mielie drie weke gelede op die Slaghoekplaas, net duskant Doornkop, weggeraak het.
Kevin het vertel dat hy en sy twee honde, Mielie en Brood (die Jack Russel) na ’n grot toe gestap het om te kamp, toe Mielie soos oudergewoonte in die poele van die Olifantsrivier baljaar het.
Kevin het sy rug vir ’n oomblik gedraai en toe hy terugkyk was Mielie weg.
Mielie, wat self ’n legende is staan onder baie mense bekend as “Mielie van die Hoëveld”, omdat hy ’n taai hond is met baie staaltjies van sy eie.
Hy is al deur ’n kameelperd getrap, deur zebras geskop, “en die spoegkobras ken hom op die naam.”
Kevin en sy hondemaatjie, Brood, is so verlore sonder hulle derde musketier dat verskeie soekgeselskappe al die Olifantsrivier gefynkam het opsoek na Mielie.
Daar is al met die hulp van hommeltuie, die Clarice K9 Unit en selfs ’n helikopter na Mielie gesoek.
Boonop, is R30 000 suksesvol ingesamel om ’n termiese hommeltuig aan te skaf en nou is R10 000 geborg vir ’n beloning.
’n Vriendin wat onder die naam, Zambi, vir Kevin help met die soektog, het vertel dat beide leerders van die Mkhulu Combined School (Doornkop) en ’n taxi bestuurder vir Mielie Saterdag naby Doornkop gesien het.
“Ons glo daar is ’n 50% kans dat Mielie nog lewe. Baie mense vra of Mielie nie dalk dood is of deur ’n krokodil gevang is nie, en al is dit ’n moontlikheid, is dit steeds nie ’n rede om op te hou soek nie. Ek is oortuig dat as Mielie nog lewe, hy waarskynlik gaan soek na tekens van beskawing omdat hy sy eie spoor verloor het. Tydens ons soektog het dit aan die lig gekom dat daar baie statte om die plaas is, en dis moontlik dat Mielie by een van hulle uitgekom het. Hy sal waarskynlik dan daar vassteek en bly omdat hy veg op oorlewing.”
Marthina (Zambi) het vertel dat hulle steeds die area fynkam en dat daar oor die naweek minstens 80 km gedek is.
“Al wat ’n mens is in die omgewing is pamflette in die hand gestop so almal weet van Mielie.”
Indien iemand weet waar Mielie homself bevind, kan hulle vir Marthina kontak by 082 895 7807.
• Daar word ook gevra dat daar verder geen meer kontak gemaak word met Kevin self nie, weens swak sein.
“Ons doen ook saans ’n opdatering op die ZAMBI Facebookblad om lesers op hoogte te hou.”
