Is dit Puma wat Hanna (2) leer lees het?
Sy is net twee jaartjies oud maar sy lees al die Middelburg Observer!
Klein Hanna Boshoff stel veral belang in die sportbladsye en kon nie uitgepraat raak oor driekamper, Cobus Foruie, se berig nie.
Cobus neem die naweek deel aan sy 40ste Ysterman kompetisie.
Mens weet nou nie of dit Kleuterskool Gansiekeur is wat haar so mooi van koerante leer, haar joernalis ma, Jana, of die Middelburg Observer se leesprojek nie.
Die leesprojek:
Toe Suidoos-Transvaal in 1997 ’n nuwe identiteit aanneem, is die geel varkoor op die linkerbors vervang met ’n grommende Puma (bergleeu) afgelei van Mpumalanga.
Vir die eerste keer het die provinsie ook ’n gelukbringer gehad. Sy naam was Puma.
’n Jong skoolseun, Pieter Swanepoel, was die gelukbringer.
Tydens ’n wedstryd op die Johan van Riebeeck Stadion is ’n boer van Groblersdal, Kobus Badenhorst, deur ’n groep onderwysers uitgedaag om Puma te duik.
Hy het oor die reling gespring en Pieter so hard platgeloop, dat hy ’n haarlynbreuk aan sy rugwerwel opgedoen het.
Vir lank is die gelukbringer aan diens onttrek.
In 2003 vier Lydenburg Rugbyklub hulle honderdjarige bestaan en smeek dat Puma by hulle rugbydag optree.
Hy is so hard deur ’n student geduik dat twee van sy rugwerwels geskuif het.
Die Mpumalanga Rugby-unie se uitvoerende hoof, Chris Buitendach, het Puma aan verdere diens onttrek en die mondering aan die Middelburg Observer geskenk.
’n Onderwyseres, Marlize Loubser, skryf ’n toneelstuk van “Ponkie die slim donkie” wat net wou speel en nie lees nie.
Hy kry verskeie take, wat sy ma opplak. Wanneer sy dorp toe gaan, moet Ponkie lees wat die opdragte is. Omdat hy nie kan lees nie, verander sy dag in ’n deurmekaarspul en sy ma raas met hom toe sy by die huis kom. Hy onderneem om elke dag te lees.
Ponkie word Puma en siedaar: ’n Suksesvolle leesprojek.
Die leesprojek is volstoom aan die gang en skole kan die koerant nader om dit op te voer.
Die projek kan aktief in die klaskamer voortgesit word met ’n Pumaplakker wat die koerant voorsien vir die beste lesers of leerlinge wat die meeste lees.
Om die Pumaprojek te bespreek bel Tobie by 072 220 1568.
@middelburgobserver Het Ma, Gansiekeur of Puma vir Hanna Boshoff leer lees?
