
Die Middelburg Observer word oorval deur inwoners wat wil weet: “Waarom is die dorp se krag nog aan?”
Een raadslid het selfs gebel om te sê hy het nog geen klagtes ontvang dat die krag aan is nie.
Die beurtkragskedule wys dat Middelburg dorp, Mhluzi en gedeelte van Uitbreiding 18 veronderstel is om van 07:00 tot 09:30 af te wees.
Me. Ronel Maree van die Cherry Loadshedding-groep het gesê dat sy self nie verstaan hoekom die Middelburg/Mhluzi, Hendrina/Kwazamokuhle/Pullenshope, en Keerom/Rondebosch areas nog aan is tydens hulle beurtkrag tydgleuf nie.
Me. Maree het gesê dat sy self die skedule fyn nagegaan het om te kyk of daar intussen ’n opdatering of verandering gemaak is aan die beurtkragfase.
“Volgens die toep Push is ons nog op fase 4 beurtkrag en daar is nêrens ’n opdatering deur Eskom gemaak om te sê dat dit verander het nie. Dit sê dat die skedule akkuraat is en ons is veronderstel om af te wees.”
Dit is egter vir haar belangrik dat inwoners moet weet wat aangaan sodat hulle hulle dag kan beplan en daarom sal ’n nuwe skedule dadelik uitgereik word indien sy nuwe inligting bekom.
• DA Raadslid Hennie Niemann weet ook nie hoekom Middelburg sy beurt vrygespring het nie. Hy vertel egter tong in die kies dat hy nog nie ’n enkele klagte van inwoners ontvang het daaroor nie.
