Pitbull hondjie wat gesteel is, moontlik verkoop
Die pitbulterriër babahondjie wat gister in Framestraat gesteel is, is na alle waarskynlikheid klaar verkoop.
Dwelmverslaafdes het vir me. Ayesha Snyman (van Hope Corner) gisteraand gesê dat die persoon wat die hondjie gesteel het, “hom reeds aan Nigeriërs verkoop het”.
Daar is gister op Facebook ’n plasing gemaak dat die hondjie gesteel is. ’n Foto is van die persoon geneem wat die hondjie in ’n sak gedra het.
Daar is ook langs dié foto ’n ander foto geplaas van ’n persoon se gesig. Daarby is gesê dat mense moet uitkyk “vir die Werner-knaap. Dit is bevestig, dit is wel hy.”
Me. Snyman sê dit is egter beslis nié Werner nie, maar Michael Bakker.
Sy ken Michael al vier jaar, aangesien hy ten minste vyf keer by Hope Corner was om te probeer skoonkom van heroïnverslawing.
“Hy was eenkeer 11 maande skoon en het só goed gedoen.”
Michael is egter elke keer weer strate toe en was verlede jaar in Oktober die laaste keer daar. Hy het opgedaag en vir hulp gevra, maar drie dae later weer geloop.
Nadat me. Snyman gister die plasing op Facebook gesien het, het sy yskoud geword.

“Ek het kort voor 15:00 my dogter gaan haal en verby hom gery by die verkeerslig op die hoek van John Magagula- en Oranjestraat. Hy het toe die blou sak gehad. Hy was seker op pad om die hondjie toe te gaan haal.” ’n Ander jongman het saam met hom geloop.
Sy het gisteraand besluit om na hom te gaan soek en het oral rondgevra.
Omstreeks 21:30 gisteraand het ’n ander hawelose, “Gary” (sy van is nie vir haar gegee nie) vir haar gesê dat hy en Michael wel gister saam geloop het, maar dat hy later in ’n ander rigting koers gekies het.
“Volgens Gary het Michael vir hom gesê dat hy op pad is om ’n hondjie te gaan steel.”
Sy het gisteraand ook gepraat met ’n ene “Willem”, wat dieselfde storie vertel het.
“Dit klink of nie net die hond gesteel sou word nie, maar ook ander artikels.”
•Me. Snyman sê dat Michael binnesmonds, onduidelik “met ompaadjies praat. Destyds het daar van ons fietse verdwyn en het hy met sy ompaadjie stories, op ’n manier erken dat hy dit gesteel het. Ons het dit nooit teruggekry nie, want dit is verkoop.”
•Michael is sedert gisteraand nêrens te sien nie en kon nie vir kommentaar bereik word nie.
