News

Bou van hotel op Middelburg gekritiseer

“Die befondsing van nie-noodsaaklike projekte, soos ’n hotel met 200 kamers in Middelburg, is luukshede wat geen plek in ’n sukkelende provinsiale begroting het nie,” het mnr.Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier: Mpumalanga, gesê.

“Daar moet in more se begrotingsrede eerder meer fondse aan ekonomiese noodsaaklikhede soos infrastruktuurontwikkeling toegewys word sodat ekonomiese groei, werksgeleenthede geskep deur die privaatsektor en die uitroei van armoede bewerkstellig kan word.

“Staatsbesteding op ‘n hotel ter waarde van sowat R500 miljoen is nie ’n outomatiese seën vir Mpumalanga se ekonomiese groei nie.

“Tans het Mpumalanga nie luukshede soos hierdie nodig wat onder die dekmantel van “werkskepping” verkoop word nie. Dit is hoogstens ’n tydelike maatreël om werk te skep. Sodra die konstruksiefase afgehandel is, sal al daardie werkers weer werkloos wees. Baie van die kontrakte is in elk geval aan maatskappye vanaf Gauteng toegeken.

“Die provinsie moet werkskepping aan die openbare sektor oorlaat en fokus op die mandaat van die regering,” het mnr. Weber gesê.

“Die provinsie het dienslewering nodig, dit benodig die voltooiing van huidige projekte, en bowenal moet hy water vir sy inwoners begin spaar.

“Mpumalanga se grootste nywerhede van bosbou, mynbou en landbou, is almal dorstige aktiwiteite. Veral ou myne bied probleme deurdat dit grondwater besoedel.

“Dit beteken dat Mpumalanga sy water moet bewaar en meer damme en nuwe watersuiweringsaanlegte bou.

“Talle plaaslike munisipaliteite sukkel al geruime tyd om water te voorsien.

“Die provinsiale regering het aansienlike hulpbronne hiervoor beloof. Dit sluit die R2,7 miljard in die 2015/16-boekjaar aan munisipaliteite vir water- en sanitasieprojekte in, en ook die R91 miljoen vir die Lushushwane-grootmaatwatervoorsiening in die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit.

“Tot dusver sloer die meeste van dié waterprojekte.

“Die ANC-geleide regering het verskeie kere gedurende die afgelope paar boekjare aangekondig dat hy miljoene rande opsy gesit het om waterskaarste te beveg in streke wat droë toestande ervaar. Tog wag almal nog vir die beloofde boorgate en damme.”

Mnr. Weber het gesê eerder as om geld te bestee waar dit die nodigste is, bewillig die ANC geld “vir ? hotel in ’n dorp soos Middelburg wat vinnig besig is om te verval en geteister word deur misdaad.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button