HTS Middelburg het oor die jare ’n paar ware karakters op hulle personeel gehad. Dit was veral in die tyd toe “Oom Pottie” die skoolhoof was.
Mnr. Pottie Potgieter was ’n streng en imposante figuur.
Saam met hom was daar mansonderwysers wat diep spore by die skool getrap het soos Lukas Meyer, Chris Grobler, Poerie van Rooyen en Gert van Buuren.
Van Buuren was vir 25 jaar ’n onderwyser by die skool.
Na sy afsterwe die afgelope week is nog ’n hoofstuk van Oom Pottie se boek afgesluit.
Hy is in die Life Kosmos-hospitaal in eMalahleni oorlede weens komplikasies van ’n galblaasoperasie.
Sy lewensviering vind plaas op Dinsdag, 27 Oktober, om 14:00, uit die NG Ligkruis-gemeente.
Op die uitnodiging word gesê: “Kom vier saam met ons ’n lewe van 80 jaar, gevul met kosbare herinneringe, liefde en ’n nalatenskap wat vir altyd in ons harte sal voortleef.”