Daar is vandag afskeid geneem van Quintin Bernardo by die nuwe Rondebosch-begraafplaas waar hy waardig ter ruste gelê is na sy dood op die vloer in ‘n weldoener van Nasaret se huis.
Bernardo is op 8 Oktober dood aangetref waarna sy liggaam na ‘n ondernemer in Mhluzi gestuur is.
Daar is vinnig R2 000 bymekaar gemaak om die liggaam na Roseleigh-begrafnisdienste oor te plaas. Roseleigh het die begrafnis hanteer en niks is ontsien nie.
‘n Aaronskelk is op Bernardo se kis geplaas, omdat hy eenvoudig geleef het.
Sy lewe op straat was nie maklik nie.
Lesers het in 2019 met Bernardo kennis gemaak toe hy hoed in die hand by Observer opgedaag het om hom te help soek na sy hond en sy bakkie.
‘n Aanlyn pleidooi is gelewer vir inwoners om te help soek.






Dis toe dat die polisie bel en sê Jock en die bakkie is voor die stasie waar Bernardo die vorige aand geparkeer het.
Hy is te voet daar weg.
Hy het nederig erken dat hy vir Jock en sy Mitsubishi ‘mis-gedrink’ het.
Die hereniging met sy hond was ‘n blye geleentheid wat Observer op video en kamera vasgevang het.
Sommige mense was so kwaad vir hom dat hulle hom summier by die DBV gaan verkla het, omdat hy sy hond en bakkie na ‘n gekuier verloor het.
Die Observer-foto’s waar Jock vir Bernardo deur die gesig lek, het egter ‘n ander storie vertel.

Nadat die storie landwyd opspraak gewek het, was die oorheersende gevoel dat Bernardo vergewe moes word.
Voor sy dood was hy op straat en verslaaf aan dwelms. Nabye familie het hy nie gehad nie.
Wat intussen van Jock geword het, kon nie vasgestel word nie.
‘n Woord van waardering word gerig aan elkeen wat bygedra het om Bernardo waardig ter ruste te lê.
.