Polisie krap steeds ook kop oor wilde skietery
Die wilde skietery laasnag langs Kanonkop op die Stoffbergpad het niks te doen met die polisievoertuie wat by die ingang van Renosterstraat opgemerk is nie.
Hulle was inteendeel heeltemal onbewus dat inwoners van Kanonkop benoud agter toe deure geskuil het toe sarsies skote kort na middernag geklap het.
Daar is verneem dat die polisie bloot toevallig op die Stoffbergpad by die Renosterstraat kruising was na die skietery, aangesien hulle inligting ontvang het dat ’n geroofde voertuig op pad is na Middelburg.
Die voertuig, wat in Augustus in Jeppe (Polokwane) geroof is, is afgetrek. Nadat die voertuig gestop is, is twee persone gearresteer. ’n Wapen is ook by hulle gekry, maar daar was geen oor en weer skietery nie.
Die hele arrestasie het sonder voorval plaasgevind en die twee verdagtes het vandag in Jeppe in die hof verskyn.
•Daar is geen sake geopen na die skietery wat in Kanonkop gehoor is nie en as die polisie nie eers daarvan weet nie, wonder almal steeds: wie het op wie geskiet?
•Enige persoon wat inligting het oor die gebeure, kan Daleen Naudé bel by 013 243 1434 of stuur ’n e-pos na daleen@mobserver.co.za.
