Man met baard, sonder skoene, in Ermelo gesien
’n Man met ’n baard, sonder skoene, wat die verdwene Renier van Niekerk se beskrywing pas, is vanoggend onder ’n boom in Ermelo gesien.
Mnr. Malcolm Lloyd, ’n inwoner van Ermelo, sê hy het toevallig vroeg vanoggend die berigte gesien wat die Observer op hul webtuiste geplaas het.
Omstreeks 11:50 was hy in die dorp en het op die hoek van Fourie- en Robertsonstraat die man onder die boom sien sit.
“As jy van Hendrina se kant af, Ermelo inkom, dan draai die hoofpad links Breyten se kant toe. Dit is net so paar blokke op wat ek hom gesien het.”
Mnr. Lloyd sê die man het die beskrywing gepas van mnr. Van Niekerk. “Hy het ’n baard gehad en was kaalvoet.” Dit het vir mnr. Lloyd gelyk asof die persoon sit en eet.
Mnr. Lloyd wou dadelik mnr. Van Niekerk se vrou, Michelle, laat weet dat hy die persoon gesien het, maar dit was beurtkrag en hy kon nie op die webtuiste of op Facebook gaan om die nommer te bel nie.
Eers na beurtkrag kon hy deurkom.
“Ek het die polisie laat weet en hulle sal die Ermelo polisie vra om te gaan kyk. Dit is die eerste inligting wat ons in ’n lang tyd van gister af gekry het. Dit gee my hoop, dan hoef ons nie in ’n lykshuis na hom te gaan soek nie.”
•As daar nog mense in die Ermelo omgewing is wat die persoon dalk gesien het, vra me. Van Niekerk dat hulle haar asseblief sal bel by 082 438 8570.
