Trustfonds om Ysterman na Spanje te stuur
Cobus Fourie is altyd die een wat ander help. Wat bereid is om te stop en ’n opponent se pap band te herstel. Wat sy kosbare kennis verniet uitdeel. Wat elke dag sweet in die Krugerdam bos om vir die dorp ’n stapperspad te bou. Wat op sy gelukkigste is wanneer hy kan gee.
Nou het twee van sy mede-klublede van Middelburg Fietsryklub en Middelburg Marathonklub besluit om ’n trustfonds te begin sodat Cobus aan die Wêreld-tweekampioenskap in bergfietsry en veld-pad-hardloop en in padfietsry en hardloop, in Spanje kan gaan deelneem.
Die “Cobus Fourie Trustfonds” word geadministreer deur Theo Pistorius Prokureurs en daar gaan gepoog word om die R40 000 in te samel wat Cobus benodig om in Spanje deel te neem die eerste week in Mei 2023.
Indien daar fondse oorbly sal dit in die toekoms aangewend word vir jong behoeftige sportdeelnemers.
Sy twee medeklublede, wat anoniem wil bly, het dadelik daad by die woord gevoeg en elkeen R1000 tot die trustfonds bygedra.
Die Nedbank Trustfonds rekeningnommer is 9023218951.
Cobus het Sondag die eerste Suid-Afrikaner geword wat 40 Ysterman kompetisies voltooi.
