Vrou rasend van bekommernis nadat man verdwyn ‘op pad na veiling’
Kort nadat Renier van Niekerk (39) vir sy vrou gesê het hy gaan na ’n veiling toe, het hy gister verdwyn.
“Die persoon saam met wie hy gisteroggend sou gery het, het my gistermiddag gebel en gesê hy wag steeds vir Renier!” het mnr. Van Niekerk se vrou, Michelle, vanoggend gesê.
Sy is rasend van bekommernis, omdat twee mense hom gistermiddag gesien het, eers op die ou Belfastpad naby die Rustique ingang en toe later op die Hendrinapad.
Die persoon wat hom op die Hendrinapad gesien het, het gesê hy het langs hom gestop en gevra waarheen hy op pad is.
Mnr. Van Niekerk het vir hom gesê dat hy “net ’n bietjie oefen om fiks te word en gevra vir water.” Hy wou nie in die voertuig klim toe daar vir hom ’n geleentheid aangebied is nie.

Wat vreemd is, is dat mnr. Van Niekerk die persoon herken het.
Me. Van Niekerk wonder of haar man nie ’n hou oor die kop gekry het of iets ingegee is nie.
“Dit is heeltemal uit sy aard om so iets te doen. Ons seun, Renier jnr, vier ook more sy verjaardag en sy pa sal dit beslis nie wil mis nie.”
Wat haar dronkslaan, is dat hy te voet was, “want hy sou opgelaai word na die veiling toe. Alles was gisteroggend nog normaal en hy het selfs gesê hy los vir my ons bakkie dat ek daarmee kan ry. Vir een van sy vriende het hy vroeg gesê dat hy ’n karpart gaan koop vir ’n bakkie wat hy regmaak vir iemand.”
Hulle is besig met hul laaste reëlings om na Kanada te emigreer.
“My kar is reeds verkoop en ons sal waarskynlik voor die einde van die maand oorgaan. Renier sal nie wou wegloop nie, want daar wag ’n goeie werk vir hom in Kanada. Ons het geen probleme tuis of finansiële krisisse nie. Ons skuld niemand ook geld nie. Inteendeel, daar is baie mense wat Renier geld skuld.”
Me. Van Niekerk vra dat indien enige persoon hom dalk weer sien, om haar dadelik te bel by 082 438 8570.
•Die egpaar bly naby die SAVF Tehuis vir Bejaardes.
