Dagpatrollie trek vermeende kabeldief vas
Lede van die Dagpatrollie het gisteraand tydens ’n patrollie ’n vermeende kabeldief in Eastdene vasgetrek.
Mnr. Arthur Hill (Dagpatrollie) sê dat hy en mnr. Andries Pretorius saam in ’n voertuig patrollie gery het in Blackmorestraat en omstreeks 19:35 links gedraai het in Koetsstraat, Eastdene se kant toe.
Hulle het ’n man opgemerk wat in die veldjie langs die pad met ’n swaar sak op sy rug en ’n ander sak oor sy skouer die veld in loop.
Die man het nie aanvanklik notisie van hulle geneem nie en rustig verder geloop in die kort straatjie Blackmorestraat op.
Mnre. Hill en Pretorius het uit die voertuig geklim en agter hom inbeweeg, waarop die man begin hardloop en links by Lahorestraat in is.

Teen hierdie tyd het mnr. Frikkie Vermaak, wat op patrollie was in Verdoornstraat, gehoor dat mnre. Hill en Pretorius agter ’n verdagte aan is in Lahorestraat.
Hy het van Verdoornstraat se kant af in Lahorestraat ingedraai en saam met die ander twee lede die man voorgekeer.
In die swaar sak is omtrent 15kg se koperkabels gekry en in die ander sak was die toerusting wat gebruik word om kabels te sny en gate in die grond te grawe.
’n Polisielid is ontbied en die verdagte gearresteer.
• Die Dagpatrollielede is saam na die polisiestasie en moes later hul verklaring op die Life Midmed Hospitaal se stoep gee, nadat die polisiestasie se krag afgegaan het as gevolg van beurtkrag.
• Anwar Abdool het vanoggend in die hof verskyn op ’n klagte van besit van koperkabels. Hy bly in aanhouding en sal volgende week weer voorkom vir ’n formele borgaansoek.
