Drie besighede binne drie dae beroof – hier is die rowers!
Binne drie dae is drie besighede van kontant beroof.
Tydens ’n transitorooftog by Ultra Liquors is ’n sekuriteitsbeampte gewond en een van die rowers ook waarskynlik raakgeskiet. Die rowers het weggekom.
• Die eerste rooftog het Maandagoggend by Ultra Liqours in SADCstraat plaasgevind.
’n Sekuriteitsvoertuig het ingery om die besigheid se geld op te laai.
Die sekuriteitsbeampte is na binne, waar die geldsak afgehaal is.
Die oomblik toe hy uitstap en aan die sekuriteitswa se deure raak om die geld in te laai, het twee rowers van die linkerkant af aangehardloop gekom en die wag grond toe gestamp.

Terwyl een van die boewe met hom op die grond gestoei het, het die ander een om die geldwa beweeg.
Dit blyk dat die bestuurder van die geldwa vorentoe gery het om die inhoud te beskerm en daarna uitgeklim het.
Kort hierna het ’n skietery tussen die rowers en die sekuriteitsbeamptes plaasgevind, waar die sekuriteitsbeampte beseer is. Daar word vermoed dat een van die rowers raakgeskiet is.
• Dinsdag het twee rowers personeel en kliënte van die Trust Café & Take Away in Cowen Ntuli aangehou en kontant geroof. Tydens dié rooftog het die booswigte hulle voorgedoen as kliënte.
Hulle was net ’n rukkie in die besigheid, waarna hulle wapens uitgepluk en kontant uit die kasregisters geroof het.

• Die rowers het rustig uitgestap en een van die rowers het sy wapen probeer veilig maak, waarop die patroondoppie uitgespring en op die grond geval het. Hy het die doppie opgetel en net verder geloop.
• Daar is betroubaar verneem dat daar gisteraand ook ’n rooftog by die geriefswinkel by Sasol in Meyerstraat was.
Navraag is by die besigheid gedoen, maar is daar gesê dat hulle ongelukkig nie kommentaar kan lewer nie.
’n Nuuskontak het gesê dat twee rowers hulle voorgedoen het as kliënte.
Een het ’n Middelburg Observer gevat en op die toonbank neergesit, so asof hy dit wou koop. Daarna het hy ’n plastieksak uit sy sak gehaal en ’n wapen uitgeruk.
Sy makker het om die toonbank beweeg en, met die wapen gerig op die personeel, die kasregister leeg gemaak.
• By navraag aan Johan Oberholzer (operasionele bestuurder, Mid Alarms) het hy gemeld dat hulle bewus is van die toename in rooftogte by besighede.
Hy het genoem dat dit beslis nie dieselfde rowers is wat toegeslaan het by die verskillende besighede nie, maar dat hulle waarskynlik aan dieselfde bende behoort.
