Bende met gaspistool slaan toe by Ubuntu Mining
’n Groep rowers het oomblike gelede by Ubuntu Mining op Hendrina toegeslaan.
Die bende was gewapen met ’n gaspistool wat soos die ware Jakob gelyk het.
Die groep het die eienaar van Ubuntu in sy kantoor oorval.
Die besigheid verhuur masjienerie en toerusting en het niks met eintlike mynery te doen nie.
Daar is aan die eienaar gesê dat die groep die besigheid besoek het om grootmaat steenkool te verkoop.
Toe die eienaar sê dat hy nie betrokke is met die myn, koop of verkoop van steenkool nie, is hy oorval en op die grond neergegooi.
’n Kantoordame het hom te hulp gesnel waarna die gaspistool op haar gerig is.
Sy is beveel om die besigheid se sleutels by haar lessenaar te gaan haal, sodat die boewe die werkers van die besigheid kon toesluit.
Die vrou het die paniekknoppie gedruk waarna skote met die gaspistool in haar rigting geskiet is.
Die bende het hierna op die vlug geslaan in ’n swart Volkswagen Polo.
Dorpe rondom Hendrina is op gereedheid geplaas, met inligting dat die Polo moontlik na Middelburg op pad is.
Die voertuig se registrasie kon nie afgeskryf word nie.
Daar word vermoed dat die bende moontlik op soek was na plofstof, wat nie deur die besigheid aangehou word nie.
Besighede word gevra om op die uitkyk te wees vir ’n verdagte swart VW Polo met ’n groep mans in die voertuig.
Niemand is beseer nie en niks is in die voorval geroof nie.
