Kolonel Anton Crafford het ’n trop koedoes die hasepad laat kies, om nog ongelukke te voorkom, na ’n ongeluk.
Kolonel Crafford, vir jare die bevelvoerder van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum, was Donderdagmiddag in ’n ongeluk betrokke, waar ’n koedoe die bakkie getref het, waarin hy passasier was.
Hy bly deesdae op Bethuli en vertel dat een van sy vriende, mnr. Harm Grobbelaar, gevra het dat hy saam met hom Bloemfontein toe moet ry, om tamaties te gaan aflewer by die mark. Mnr. Grobbelaar se dogter het ’n groot tamatieboerdery.
Kolonel Crafford het ingestem om saam te ry en hulle het die 200km Bloemfontein toe aangepak.

Met die terugkomslag, sowat vyf kilometer voor Bethuli, het ’n jong koedoebul agter ’n bos uitgespring en die bakkie getref.
“Ons het hom nie getref nie, hy het in die bakkie vasgespring.”
Verward en van pure skok, het kolonel Crafford uit die voertuig gespring en ’n paar waarskuwingskote gevuur, sodat die ander koedoes, wat ook reeds oor die heining gespring het, moes teruggaan veld toe om nie nog ongelukke te veroorsaak nie.
“Ons het gelukkig nie beserings opgedoen nie, want ons het redelik stadig gery. Dit was teen ’n opdraande en ons het boonop nog die sleepwa getrek. Ons het darem net fyn stukkies glas op ons gehad.”
Met die impak van die botsing, het die bakkie se dak onder andere geknak en die enjin geskuif. Volgens kolonel Crafford, is die bakkie “afgeskryf”.
