Rugbyspeler ernstig beseer
’n Rugbyspeler van Hoërskool Middelburg het so ’n ernstige enkelbesering opgedoen tydens ’n vriendskaplike wedstryd teen Steelcrest High School, dat die enkel “heeltemal opgebou moet word”.
Die skool het van die begin af ’n pad met die familie van Phillip Nel (17) gestap en het Woensdag reeds hul hekgelde vir die NWU reeks teen Zwartkop aangebied om te help met die mediese kostes.
MHS se versekering het ook die hospitaalkostes gedek toe Phillip vanaf Dinsdag tot Vrydag in die Life Midmed Hospitaal behandel is.
Phillip se enkel is op vier plekke gebreek en al sy ligamente en spiere is afgeskeur.
Sy ma, Mariëtte, het van die traumatiese gebeure verlede Dinsdag vertel.
Me. Nel sê sy het ’n ander speler hospitaal toe geneem wie se arm gebreek is.
“Toe ek terugkom by die skool, was Phillip se maats besig om hom van die veld af te dra. Hy het met die bal gehardloop toe hy grond toe gebring en verkeerd geval het.” Phillip het vir die derde span slot gespeel.
Sy is met haar kind na die hospitaal, waar verskeie skanderings en X-strale vir hulle die verdoemende nuus van sy beserings gegee het.
Weens die swelsel kon daar tot nou nie ’n operasie gedoen word nie en Phillip verduur geweldige pyn.
Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en me. Nel meld dat die mediese kostes vir die operasie tot R250 000 kan beloop om haar seun se enkel “net weer so te kry dat hy sal kan loop.”
Sy kan steeds nie glo dat hy so ’n ernstige besering opgedoen het nie.
“Phillip speel al van graad R af rugby en is baie fiks. Hy het net verkeerd geval.”
Me. Nel het dankbaar gesê dat sy die grootste respek het vir die hoof (mnr. Johan Stronkhorst), sy personeel, leerlinge en ouers van Middies wat hulle “ongelooflik ondersteun. Hulle bel ons elke dag.”
• Om self ook fondse te probeer bymekaarmaak vir hul seun se operasie, bied hulle by “Pure Plaas Boskamp Familieplaas” Saterdagaand vanaf 18:00 ’n dans aan.
Kunstenaars Jaco van der Walt en Morné van der Sandt het laat weet dat hulle gratis sal optree om met die fondse te help.
“Ons vra nie toegangsgelde nie. Jou toegang is net ’n donasie, soos jy dit in jou hart voel,” sê me. Nel.
Daar is ’n restaurant en kontantkroeg, asook oornagfasiliteite beskikbaar.
Die plaas is op die Loskopdampad, net buite die dorp geleë.
Persone wat nog wil bespreek vir die dans of bydraes wil lewer vir Phillip se mediese onkostes (daar is ’n rekening geopen vir mediese uitgawes), kan me. Nel bel by 079 447 3081.
