News

Inbrekers breek in en steel duisende rande se rekenaarsisteem

Two Step inbrekers slaan weer toe

Inbrekers het vanoggend (Donderdag) in die vroeë oggendure diefwering by ’n sitkamervenster afgebreek om toegang tot ’n huis te kry vir skootrekenaars en televisiestelle.

Die inbraak het plaasgevind by ’n huis in Lilian Ngoyistraat (Kanonkop) terwyl die gesin gelê en slaap het.

’n Omgekrapte me. Mariska White sê hul twee klein hondjies, wat op ’n stadium begin blaf het tydens beurtkrag, het na buite gehardloop en boonop die gevreesde Temik (ook Two Step gif genoem weens die vinnige werking) ingekry. Die hondjies is tans by ’n veearts vir behandeling.

Kettie het gif ingekry en is tans nog by die veearts.

Me. White vertel dat hulle presies om 02:35 gewek is met Kettie (doberman pinscher) en Prop (worshond kruising) se geblaf in die huis.
Hulle het gedink die hondjies wil uitgaan en het opgestaan.

Prop het ook van die Temik-gif ingekry.

Die oomblik toe hulle in die voorste gedeete van die huis kom, het hulle gesien die sitkamervenster staan oop en die wind waai die blinders op.
Met nadere ondersoek is gesien die diefwering is afgesny en oopgebuig en dat die booswigte die huis deursoek het vir waardevolle artikels.

Me. White het tot omstreeks 23:00 op haar skootrekenaar gesit en werk en vermoed die inbrekers het haar moontlik dopgehou.

Sy het laat gaan slaap en onthou dat sy om 01:00 nog wakker was.
Die inbrekers moes daarna by die erf ingekom het.

Hulle het waarskynlik oor die muur gespring en die groot solarlig by die hek afgebreek.

Die palissadehek is nie stukkend nie en alle aanduidings is dat hulle die buit oor die muur getel het, aangesien van die artikels nog in en buite die muur gekry is. Dit dui daarop dat die honde se geblaf hulle die skrik op die lyf gejaag en hulle geepad het.

“Hulle moes met ’n voertuig gekom het, want hulle kon nie die rekenaarstelsel, televisies en skootrekenaars weg gedra het nie. My ouers, At en Riana van Jaarsveld en lewensmaat, Jaco Carelzen, het dadelik in die hele area rondgery, maar het niemand gesien nie.”

Die area waar die rekenaarsisteem gesteel is.

Om toegang tot die huis te kry, het die booswigte eers twee groot potte met plante voor die venster weg geskuif, die venster oopgewikkel en die diefwering geknip.

In die sitkamer is ’n grootskerm televisie gevat en vandaar is hulle na ’n ander vertrek waar nog ’n televisie en twee skootrekenaars gebuit is.

Hulle het ook mnr. Carelzen, se hele opgeboude rekenaarsisteem met interne verkoelingstelsel (waarmee gevorderde speletjies gespeel word) gevat.

“Ons het die een skerm van die rekenaar buite die muur gekry, maar die rekenaarsisteem en twee ander skerms is weg. Dit alleen is meer as R100 000 werd!”

Mnr. Carelzen is ’n elektrisiën en die boewe het ’n groot sak met van sy gereedskap, wat ook duisende rande werd is, gevat. Dit is aan die binnekant van die muur gekry.

• Die boewe het hul eie boutsnyer saamgebring om die diefwering te knip en dit agtergelaat.

Die inbrekers het hul boutsnyer, waarmee die diefwering geknip is, op die toneel gelos.

• Beskrywings van ’n paar van die artikels wat gesteel is, is as volg: ’n Dell Inspiron N5110 Core i5 skootrekenaar, ’n Dell Inspiron 15 3511 Core i5 skootrekenaar, ’n wit televisieboks, ’n Sinotec Andriod 42 duim (vol HD LED) televisie, ’n JVC platskerm 42 duim televisie. Die een skootrekenaar het ’n Beringer plakker op.

• Die Noordroep Radiogroep Sektor 3 het blitsig die polisie in kennis gestel van die inbraak en die polisielede was binne minute op die toneel.

Me. White het haar dank uitgespreek teenoor die polisie wat hulle met empatie hanteer het “en dit makliker vir ons gemaak het.”• Mnr. Bernard van der Berg het vanoggend vir die gesin die diefwering gaan regmaak en het me. White hom bedank vir sy hulp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button