News

Innibos is terug en met ’n vars kunstefees

Ná twee jaar se feesdroogte is dit vanjaar weer voluit Innibos Kunstefees, en feesterreinkaartjies kan reeds van Maandag, 27 Maart, by Computicket gekoop word.

Innibos is vanjaar van Donderdag, 29 Junie, tot Sondag, 2 Julie. Sondag is dit egter oudergewoonte slegs die Loof Hom Innibos-konsert.

“Ons is baie opgewonde daaroor om Innibos weer te kan aanbied en hoop feesgangers sien saam met ons uit na ’n gesellige vars fees,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos.

“Ons spring ook bietjie vroeër weg as gewoonlik weg met die kaartjieverkope, want in hierdie ekonomiese knypende tyd moet ons almal planne maak om die rande te rek.”

Ingesluit by die toegangsfooi na die feesterrein by Hoërskool Bergvlam, is vermaak van vroeg tot laat in onder meer die bosmôl en by die onderskeie kuierverhoë.

Elke aand word afgesluit met ’n konsert op die hoofverhoog met die room van Afrikaanse musieksterre, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Elvis Blue, Die Heuwels Fantasties, Spoegwolf en Brendan Peyper.

’n Splinternuwe kuierarea, die Wingerd Kuiertuin, sal in die kunspark ingewy word waar verskeie wynlandgoedere se wyne geproe kan word.

Aan die toneelfront kan feesgangers die doyenne van Afrikaanse teater, Sandra Prinsloo, te siene kry in die drama Kamphoer. Ligter oomblikke op die verhoog sluit in die komedies Laerskool Noord (met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee), Reünie uit die pen van Dana Snyman (met Frank Opperman), en Hans gee Herklaas horings (met Charlie Bouguenon).

Hektoegang na die feesterrein is per persoon per dag (kinders 12 jaar en jonger kry gratis toegang): Donderdag, 29 Junie, R200; Vrydag, 30 Junie, R225; Saterdag, 1 Julie, R250.

Goue sirkel-kaartjies is bykomend tot die hektoegang en kos R200 (Vrydagaand) en R250 (Saterdagaand). Donderdagaand is daar geen goue sirkel nie. ’n Weekkaartjie kos R600.

Pensioenarisse (60 jaar en ouer) betaal R100 per dag per persoon en dié kaartjies kan slegs tydens die fees by die hooftoegangshek gekoop word.

Parkeerkaartjies op die feesterrein is beskikbaar teen R100 per motor per dag.

Vir meer inligting, gaan na innibos.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button