Skryf ’n gedig en laat dit in ’n kunswerk omskep word
In ’n projek ter viering van verskeie kunsvorme en vanjaar se eerste Innibos Kunstefees sedert die Covid-pandemie, is die veelsydige musikant Lizanne Barnard op soek na oorspronklike gedigte.

Dié gedigte sal getoonset word of in kunswerke in verskillende genres omskep word.
Innibos Kunstefees is vanjaar van 29 Junie tot 2 Julie in Mbombela en die tema is “Vars”. Gedigte in Afrikaans of Engels moet by dié tema aansluit.
“Kuns kan nie in afsondering beoefen word nie,” sê Lizanne. “Met Liedjiebos begin ons by die woord, maar dan kring dit uit om verskillende skeppende kuns in te sluit. Ek glo elkeen van die deelnemers sal geïnspireer word deur die samewerking, en mekaar uitdaag om so kreatief moontlik met die tema om te gaan.”
Van die kunstenaars wat genader is om van gedigte te verbeeld, sluit in die Laeveldse keramiekkunstenaars Anton en Hanlie Bosch, en skilders Ilona Petzer en Mariana de Zwaan.
Vir die toonsettings pak Lizanne ’n verskeidenheid style aan, van klassieke kwartet en ’n kinderkoor, tot marimba en fluit, trom en kitaar. Een van die gedigte sal ook as ’n dans verwerk word.

Die gala-vertoning van Kuns inni Liedjiebos is op Vrydag, 30 Junie, om 18:00 by Christie at 32 on Russell in Mbombela. Die gaskunstenaar vir die aand is Jan Blohm, en van sy skilderwerk sal tydens die feesweek by Christie’s saam met die ander kunswerke uitgestal word.
Lizanne benadruk daar is geen voorvereistes vir gedigte nie. “Solank dit met die tema ‘vars’, ‘vernuwend’, ‘groei’ en ‘gelukkig’ te doene het, het die digters vrye teuels.” Gedigte sal uiteraard gekeur word.
Stuur gedigte na lizannebarnardmusic@gmail.com. Inskryfgeld is R50 per gedig en kan inbetaal word by Word, Stil, Capitec Bank, rekeningnommer 1574137164.
Die verwysing is die digter se naam, van, en Liedjiebos.
