Wonderwerk-vrou sterf tien jaar later
Middelburg het 10 jaar gelede gegons toe Nerine Labuschagne wonderbaarlik herstel het, nadat ’n breingewas by haar gediagnoseer is.
Sy het hierna getuienis gelewer oor die wonderwerk wat met haar gebeur het.
Haar broer, Willem van Rooyen sê “’n wonderwerk het gebeur en die gewas het verdwyn toe sy geopereer sou word.”
Twee jaar gelede het sy skielik weer siek geword en was die gewas terug.
’n Operasie is vroeg in 2022 gedoen en sy het chemoterapie gekry, maar die laaste ruk het sy baie agteruit gegaan en is gevind dat die kanker versprei het.
Willem sê daar is twee maande gelede vir hulle gesê dat die dokters niks meer kan doen vir Nerine nie en dat hulle aanbeveel dat sy in ’n Hospice versorg word tot met haar afsterwe.
Me. Labuschagné se moeder, Nerine Erlank, het egter gesê hulle sal haar versorg en sy het by hulle gebly tot met haar afsterwe. Daar was ’n suster wat 24 uur gehelp het om haar te versorg.
Sy is gisteraand in haar ouerhuis in Modimolle oorlede.
Nerine (54), “het ’n sagte hart gehad en die Here altyd eerste in haar lewe gestel.”
“Ons is dankbaar dat Nerine vir nog 10 jaar vir ons gespaar is, maar ons gaan haar só mis,” het mnr. Van Rooyen gesê.
Hy het sy suster beskryf as ’n persoon wat met almal vriendelik was, “vol lewenslus, ander altyd bo haarself gestel het en alles vir die Here gegee het.”
Me. Labuschagné word oorleef deur haar ouers, Johnny en Nerine, kinders Jean-Jacques en Dean, skoondogters Annika en Kinzie, kleinkinders, Kobus, Hattingh en Jean-Nika en broers en susters, Willem, Christa, Mercia, Madelise en Thomas.
Die begrafnis is volgende Vrydag (24 Maart) om 11:00 by die Hartbeespoort begraafplaas,
