Wanneer daar rugby op ’n dorp gespeel is het alles tot stilstand gekom.
Daar was ’n gees van afwagting, boere en fabriekswerkers het in een middag helde geword.
Dit was dorp teen dorp.
Uit klubkleedkamers het die reuk van Deep Heat gekom en die “pynpolisie” was sommer die noodhulpliga met botteltjie water.
Daar is pannekoek en worsbroodjies verkoop en na die tyd het die besoekende span kerrie-en-rys gekry en het vyande wat die middag teen mekaar meegeding het, tot in die vroegoggende saam gekuier.
Die gesiene manne het met baadjie en das opgedaag en het die eretitel gedra van voorsitter, sekretaris en president.
In 1976 sluit die Springbok, Polla Fourie, hom by Belfast Rugbyklub aan en die gewese Wes-Transvaler, China Vorster, is die heelagter. Toe Middelburg op ’n Woensdagmiddag daar gaan speel, sluit al die besighede, asook die landdroskantoor, poskantoor en die paaie-departement.
Die middedorp is grafstil, maar om die rugbyveld kook dit.
China skop drie strafdoele oor en Belfast wen 9-3.
Belfast hou more (Saterdag 18 Maart) reünie by die kuierplek Ekstra Myl.
In sy eeufeesgedenkuitgawe skryf die klub:
“En so beleef ons dan die jaar 2004: Jubeljaar, feesjaar! Belfast Rugbyklub is ’n volle 100 jaar oud.
“Die tegnologie het ’n magdom dinge makliker gemaak. Afstande het gekrimp, rugbytruie krimp nie meer nie, kommunikasie kan binne sekondes reg rondom die wêreld plaasvind.
“Waar lê die uitdaging wat die manne van die klub die nuwe eeu moet indra? In die hart van elke man met ’n passie vir die Spel.
“Daar word gesê dat die verste reis is van mens tot mens, deur die hart.
“Maar as hierdie twee harte die gemeenskaplike faktor van ’n rugbybal dra, is die spel oop doellyn toe.”
Vir navrae oor die reünie kan die volgende persone geskakel word:
Ferdie Brits 082 337 8776.
Ernst van den Berg 083 2271 051.
Francois de Villiers 082 9265 759
Gawie van Rensburg 082 8064 825
Ryno Kleinhans 084 7179 122
Johan Burger 082 9219 821.
