Polla Fourie aan Piet Craven: “Jy bid, ek praat op die veld”
Die bakkies het ingeryg gestaan, asof hulle langs die “lang bome”, soos Belfast Rugbyveld se veld bekend was, parkeer het.
Al die legendes was daar: Hennie Schoeman, Nan Broekman, Johan van Rensburg, Ben Schoeman, George Minnaar, Francois van Vuuren, Pieter Peach, Nico Kriek, Ernst van den Berg, Jan Burger, Johan Kriek, Gawie van Rensburg…
Hierdie keer nie om op die veld te draf nie, maar om te onthou.
En onthou was daar in oormaat tydens Belfast Rugbyklub se reünie Saterdag by die kuierplek Ekstra Myl tussen Wonderfontein en Carolina.
Die oudste speler teenwoordig was Francois van Vuuren (86) wat saam met Nick Laubscher vanaf 1952 tot 1960 ’n gedugte senterkombinasie vir Belfast was. Hy het ook vir Noordoos Subunie uitgedraf.

Die oud kaptein, Nico Kriek, het herinneringe opgeroep soos die dag toe Belfast vir Maties met hulle Springbok gelaaide span so byna op Ermelo se rugbydag geklop het.
Die televisie kommentator, John van Rensburg, was die gasspreker.
In die saal was daar ’n muur met memorbalia wat die nostalgie in die oudspelers en beamptes wakker gemaak het.
Die spelers wat oorlede is, se name is op ’n bord geskryf en een vir een deur Ernst van den Berg voorgelees.
Een speler wat gemis is was die klub se speler van die eeu, Pola Fourie. Hy het glo sy vlug vanaf die Oos Kaap verpas.
Saam met al die lekker onthou was daar ’n tikkie hartseer.

Belfast munisipaliteit het, soos so vele ander munisipaliteite op plattelandse dorpe, die klubhuis tot niet laat gaan en die klub het in 2021 ontbind.
Die oud Middelburg en Suidoos-Transvaal kaptein, Piet Craven, het ook ’n boodskap vir die klub gestuur.
“Die klubgeskiedenis oor die 100 jaar is prysenswaardig en het my verstom, aangesien ek onbewus was van meeste daarvan. “Trots kan julle opreg wees want soveel prestasies en skouspelagtige rugby wat julle opgedis het en waarmee julle die publiek vermaak het, het nie ongesiens verby gegaan nie.
“As oud Middelburg rugbyspeler en kaptein het ek gereeld geleenthede gehad om kragte te meet teen Belfast. Tuiswedstryde natuurlik baie aangenamer as by “die langbome” waar ek ’n voortand verloor het. (Van tyd tot tyd so ’n bietjie waardigheid ook).
Ek onthou nog goed as Polla vir China gesê het: “Sit hom op Chinsie” dan moes ons bontstaan onder die up and unders. Klipharde klubrugby op sy beste. Wat ’n voorreg om ook deel daarvan te kon wees.

’n Lekker storie van Polla net voor hy Middelburg vir Belfast verruil het. Hy het net terug gekeer van die Springbok toer en moes hoor dat ek die tussentydse kaptein is. Hy roep my by die kleedkamer in en sê: “Craven, hulle sê jy is die kaptein. Kom ek vertel jou gou hoe werk dit. Jy bid in die kleedkamer, ek praat op die veld.”
Belfast se bydrae tot Suidoos-Transvaal word ook onthou, asook wyle oom Fred Coetzee as afrigter. “Lang nek, slap nek” was sy gunsteling opwarmingsoefening.
Dankie Belfast vir wat julle gedoen het vir rugby. Ons salueer julle en verlustig ons aan hierdie herinneringe. Inderdaad brandhout vir die ou dag!
Langboom groete, Piet Craven.
•Meer foto’s in hierdie week se Middelburg Observer.







