Skaap se keel met bierbottel afgesny
As daar een plek is waar jy nie gearresteer wil word nie, is dit reg voor die koerant se kantoor, veral as jy publisiteitsku is.
Nadat ’n skaap se keel met ’n bierbottel afgesny en nog skape Sondag gesteel is, is vier verdagtes reg voor die Middelburg Observer se kantore vasgetrek.
Die Middelburg Veediefstal- en Bedreigde Spesie eenheid het reageer op inligting dat skape voor die koerant se kantore verkoop sou word en is die groep gearresteer.
Twee skape, wat met baaltou vasgemaak is, is teruggekry.
Mnr. Callie Meyer sê een van die skape se bene was egter só styf vasgemaak dat die dier se onderbene erg beseer is en moontlik geslag moet word.
Twee skape is Sondag op sy plaas Panfontein gesteel, terwyl hulle in die kerk was.
“Dit was die tweede keer in twee weke wat hulle skape gesteel het, terwyl ons in die kerk was,” sê hy vies.
Hy glo ook dat dit dieselfde groep is wat albei kere toegeslaan het.
Mnr. Meyer vertel dat een van hul skaapwagters twee weke gelede op skaapdiewe afgekom het in die veld.
“Op daardie stadium het hulle reeds een skaap se keel met ’n bierbottel afgesny en was hulle besig om die ander drie skape te steel.”
Daar is alarm gemaak en die skaapdiewe is agterna gesit, maar die booswigte het tussen die mielies in verdwyn.
Sondag was hy weer in die kerk toe hy sien dat daar dié keer twee skape op sy plaas gesteel is.
Die polisie het inligting opgevolg dat daar moontlik ’n transaksie, om mnr. Meyer se twee skape te verkoop, in Meyerstraat voor die Observer gaan plaasvind.
Hulle het blitsig gereageer en vier verdagtes, wat almal op die agtersitplek van ’n ou model VW Golf gesit het, is vasgetrek.
Die twee vasgebinde skape is in die kattebak gekry.
Die bestuurder van die voertuig is laat gaan, aangesien hy beweer het dat hy net die voertuig bestuur het en nie geweet het dat skape gesteel sou word nie.
•Die verdagtes het Maandag in die hof verskyn en die saak is uitgestel na ’n latere datum vir verdere ondersoek.
Die beskuldigdes is Johannes Mahlangu, Sizani Mahlangu, Vusi Mahlangu en Bongani Mhlalukwana.
