Byna vier jaar nadat ’n gru-ongeluk die lewe van Pieter Rossouw (40) en sy twee seuns, Jannie (12) en JP (10) geëis het, is niemand vervolg nie. En dít nadat daar reeds ’n lasbrief vir arrestasie uitgereik is vir die bestuurder van die tweede voertuig.
Die ongeluk het op die R33 by die Slagboomkruising, net buite Marble Hall, op 18 Augustus in 2019 plaasgevind.
Rossouw en sy twee seuns wat van Modimolle se rigting gery het, is opslag dood in die botsing.

Hulle was op pad na Steelpoort, waar die kinders saam met hul ma woon, nadat Rossouw en sy twee seuns by sy oom, mnr. Corrie Rossouw, in Modimolle gekuier het.
Rossouw het ook kort voor die ongeluk na Middelburg verhuis en sou die volgende Maandag by ’n nuwe werk begin het.
’n Voertuig het na bewering ’n stopstraat verontagsaam en met Rossouw se Datsun gebots.
Die bestuurder het hom die volgende dag by ’n plaaslike polisiestasie aangemeld, waar hy glo gesê het dat hy tussen die skuilings langs die pad beland het, maar niemand hom raak gesien het nie.
Die inligting is deur ooggetuies betwis.
Die Datsun het ook aan die brand geslaan en in ’n kanaal langs die pad beland.
Met die reddingswerkers se aankoms op die toneel het die voertuig reeds erg gebrand en kon hulle nie ’n persoon in die voertuig sien nie.
Rossouw en sy seuns het in die brand omgekom.

’n Vrou en ’n kind, wat in een van die plakkershuise woon, is ook tydens die ongeluk beseer, toe die Navara deur die plakkershuise geploeg het.
Volgens Annali Connear, Rossouw se suster, kan hulle nie afsluiting kry nie.
“Dit was ’n ernstige ongeluk, drie lewens is geneem en ander mense het ook in die ongeluk seergekry. Maar niks word gedoen nie,” sê Connear.
Sy het verskeie maal die Marble Hall polisie gekontak, maar kry geen antwoorde nie, en indien hul haar antwoord word daar net gesê dat hulle nie die verdagte in die hande kry nie.
Hulle het ’n kontaknommer van die man, sy woonadres en hy is aktief op sosiale media.
•Die familie van Rocky van der Nest wroeg ook of daar ooit geregtigheid vir sy dood gaan wees.
Mnr. Van der Nest is op 2 Oktober 2021 in Keiskammastraat (Middelburg) deur ’n BMW getref. Alhoewel die bestuurder van die voertuig gestop het, het hy weer in die kar gespring en weg gejaag toe mense uit hul huise kom.
Mnr. Van der Nest is die volgende dag oorlede.

’n Man het hom verlede jaar oorgegee, maar is laat gaan oor uitstaande kwessies op die dossier. Die voertuig is later in Midrand opgespoor, asook die eienaar van die BMW.
Al die voor die hand liggende inligting is beskikbaar, want die bestuurder van die BMW het ’n transaksie gedoen by die vulstasie net ’n entjie vanwaar mnr. Van der Nest doodgery is.
Die polisie se antwoorde is baie vaag oor waarom die saak en die dossier sloer.
’n Familielid het twee weke gelede moedeloos gesê: “iets klink nie reg nie. Niks maak meer sin nie.”
