News

Familie, oudspelers en toeskouers neem afskeid van briljante heelagter

Het op 14 Mei 1976 by die Witbank mark met my tassie gestaan.

Die markmeester was Flip Coetzer, die eerste president van Suidoos-Transvaal Rugby-unie, wat in 1969 gestig is. Dit is waarom die Suidoos span daar bymekaar gekom het, vir hulle wedstryd die volgende dag teen Noord-Vrystaat in Welkom.

China Vorster van Belfast het saam met Polla Fourie opgedaag. Daar was ’n hele paar Middelburgers wat saamgery het: Chris Botha, Dirk Pretorius, Koos Coetzee, Jan Loubser, Jerry van Rooyen, Piet Cloete, Johan Spies en Ben Badenhorst. Saam in die kar was ’n 22-jarige agterspeler wat vir Hoërskool Middelburg uitgeblink het, Harry Muller.

Harry het losskakel vir span gespeel wat Noord-Vrystaat met 18-9 geklop het.

Twee jaar gelede saam met Harry, Gerrie Gerrits (Suidoos-Transvaal adjunk president) en losskakel, Leon van den Berg, na die Suidoos reünie op Nelspruit gery.

Toe ek hom by sy huis in Kanonkop gaan oplaai, het ons lekker gelag, want Harry het weer sy grys Suidoos trui aangehad. Die meeste van sy ander truie en baadjies is deur vismotte opgevreet.

Daar is vele staaltjies uitgeruil en baie gelag, op pad daarheen en op pad terug. Harry se vrou, Mari, sê toe hy tuis kom het hy gesê dit was een van sy lekkerste dae nog.

Na die busrit Welkom toe in 1976 bykans al die meer as 100 wedstryde wat hy vir Suidoos gespeel het en die honderde vir Middelburg Rugbyklub bygewoon.

Ry vanoggend verby die NG Kerk Kanonkop waar ons vandag van Harry (70) gaan afskeid neem. Van regoor Suid-Afrika gaan die spelers hierdie keer opdaag en selfs toeskouers vir wie hy oor die jare ’n held was.

Bok van Blerk en Steve Hofmeyr sing in die liedjie Pa en Seun “ek wens so graag jy was nog hier…”
Hoe sê ’n pa vir sy seun?

Maar hoe neem jy afskeid van Harry Muller?
Briljante Harry Muller?

Harry Muller wat ook jou held in 1973 geword het toe hy ’n skitterende vertoning vir Suidoos-Transvaal teen Noord-Transvaal gelewer het op Witbank en drie weke later teen Italië.

Die beeld van die blondekop heelagter en die beeld van Harry Muller van wie ons afskeid gaan neem uit die NG Kerk Kanonkop strook nie.
Maar nie net omdat hy ’n briljante rugbyspeler was nie, maar ook ’n briljante mens.

Ja, ons wens so graag jy was nog hier.

Maar jy is, in ons verbeeldingsvlugte, in die nommer 15 Suidoos trui met varkoor op die bors, op pad doellyn toe…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button