Oud spelers groet legendariese Muller
Daar is vanoggend uit die NG Kerk Kanonkop afskeid geneem van die legendariese Suidoos-Transvaal agterspeler, Harry Muller (70).
Muller is ’n week gelede in die Life Midmed Hospitaal aan longkanker oorlede.
Verskeie oud spelers soos Wimpie van der Westhuizen, Piet Craven, Richard Cooke, Gert la Grange, Jan Erasmus, Terence Moll en selfs die oud Noord-Transvaal flank, Derick Kuun, het die diens bygewoon.

Die oud adjunk president van die Suidoos-Transvaal Rugby-unie en keurder, Gerrie Gerrits, was ook teenwoordig.
Die begrafnisbrief het gelees: “Harry was ons almal se rots, ons veilige vesting. By almal geliefd. Jou innerlike menswees was vir ons baie kosbaar.
“Familie en vriende het jou humor so geniet en waardeer. Jy was ’n voorbeeld van nederigheid.

“Ons dank die Here dat deur Sy goedheid ons die voorreg gehad het om, jou, my man, ons Dad en Oupa te noem.
“Eendag sal ons mekaar almal weer sien.
“Mari, Jaco, Richanny, Eduan, Darius, Annerie, Gunter, Rina en Ma Annamarie.”
Die diens is gelei deur ds Casper Booy.
