News

Die geheim van die houtkapper

Daar is vele staaltjies oor die wedstryd op 4 Junie 1983 op Witbank teen die Westelike Provinsie.

Die bekendste is hoe die veld kliphard gerol is, om die WP wat die sagte gras van Nuweland geken het, onkant te vang.

Een van die onbekende staaltjies is die een van die “houtkapper”.

Die houtkapper het sy beslag al op 28 Mei 1983 gekry toe Suidoos-Transvsal in ’n vriendskaplike wedstryd op Piet Retief teen die Vrystaat gespeel het. ’n Kragmeting wat hulle 29-3 verloor het.

Die onderwyser wat in die Carltonliga amok gemaak het met sy plettervatte, Wimpie van der Westhuizen, is nadergetrek omdat George Minnaar nie kon speel nie.

Hendry van Tonder het op sewe flank in Johan Pieterse se plek gaan sak en die houtkapper is in Kat Smit se plek ingespan.

Die houtkapper was Terence Moll wat soos die slot, Vleis van Zyl, vir Weermag in Pretoria gespeel het.
Die kombinasie is net so vir die WP wedstryd gekies.

Die houtkapper was Moll, wat ’n bal kon uitgrawe soos ’n? Mol!

Kat Smit was erg omgekrap omdat hy nie teen die Westelike Provinsie gekies is nie, maar in die flambojante Jordaan, die skitterende Van Tonder en Moll, het Suidoos ’n kombinasie gehad wat hulle man kon staan teen Nick Mallett en Rob Louw.

Wat nie bekend was nie, was dat Moll ’n luitenant was en in bevel van die gevreesde PTI . Dit was die instrukteurs wat gesorg het dat weermaglede topfiks is.
Twee van die sportmanne wat onder sy hande deurgeloop het was die boksers Charlie Weir en Brian Mitchell.

Maar waarom die houtkapper?

Hy het dit in sy eerste wedstryd destyds in die trui van Witbank gewys toe hy teen Middelburg twee drieë gedruk het.

Teen WP was hy skitterend in die los en het balle uitgegrawe en bederf soos ’n Jan Boland Coetzee op sy beste.

Die krag in sy arms was alles as gevolg van sy jarelange houtkappery.
En na 40 jaar kap hy steeds elke dag hout!

Die tweemalige Amerikaanse swaargewig kampioen, Ernie Shavers, het in 1970 bome afgekap vir oefening. Dieselfde word nou deur Anthony Joshua gedoen vir sy geveg op 1 April teen Jermain Franklin.

•Wanneer die Suidoos-Transvaal span na 40 jaar, op 21 April 2023, sy reünie in die Mbombela Stadion op Nelspruit hou, sal die houtkapper ook daar wees, saam met die ander helde van daardie span.

Al die spelers van die amateur era, die ou Suidoos-Transvaal wat in 1969 gestig is, word na die reünie uitgenooi.

Vir navrae bel Tobie van den Bergh by 072 220 1568, Gert la Grange by 083 702 5163 Richard Cooke by 083 263 6938 of bespreek by Arie Myburg 082 786 5894 of e-pos arriemyburg@gmail.com.

@middelburgobserver

Houtkapper help Suidoos die WP klop

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button