
’n Man wat patrollie gery het voor die beplande EFF staking kan homself gelukkig ag dat ’n opslagkoeël hom nie getref het nie.
“Ek glo nie daar is spesifiek op my geskiet nie, want daar het niemand rondgestaan of weg gehardloop nadat my voertuig getref is nie,” het mnr. Gerhard van Staden (Operasionele Streekbestuurder, Hi-Tech Asset Protection) gesê.
Hy het genoem dat al die sekuriteitsfirmas verlede Sondag patrollies gery het om seker te maak alles is kalm voor die staking.
Omstreeks 00:40 het hy vir ’n tweede keer in die rigting van die N11 (Hendrinapad) gery.

“Sowat 700m vandat ek regs gedraai het van Eastdene se rigting af op die Hendrinapad, het die venster aan my passasierskant gebars.”
Die koeël is deur die passasiersvenster (van Hlalamnandi se kant af) deur die agterruit van die enkelkajuit bakkie regs uit.
Mnr. Van Staden het dadelik die polisie gekontak en die area is deursoek, maar daar is geen doppies of mense in die omgewing gevind nie.
“Dit was nie gefokus op my spesifiek nie.”
•Dit was nie die eerste keer dat daar op mnr. Van Staden geskiet is nie. Sowat ’n jaar en ’n half gelede is daar tydens ’n oor en weer skietery met kapers tussen die sekuriteitsfirma en polisie ook op hom geskiet. Gelukkig het hy tydens die gebeure ook nie beserings opgedoen nie.
