News

Kardiewe skuil in Mineralia woongebied

Minute nadat kardiewe ’n voertuig gesteel het by die Middelburg Mall, het hulle dit net drie kilometer verder in Mineralia by ’n skuilhuis gaan versteek.

Twee kardiewe is gevang en daar is beslag gelê op toerusting wat seine versterk, sodat karre maklik gesteel kan word.

Mnr. Hendri Appelgryn (Moto Track, Mpumalanga Areabestuurder) het bevestig dat hulle twee arrestasies gemaak het by ’n huis in Mineralia en die verdagtes reeds in die hof verskyn het.

“Toe hulle gevang is, het hulle reeds die panele losgebreek om die opsporingstelsel uit te haal.”

Hy glo die twee wat hulle vasgetrek het, is deel van ’n groter sindikaat wat nuwe voertuie soos VX Landcruisers en Fortuners steel.

Mnr. Appelgryn het beskryf hoe ’n splinternuwe VX Landcruiser op 24 Februarie vanjaar by die Middelburg Mall gesteel is.
“Binne ’n minuut en 20 sekondes vandat die vrou van die kar af weg geloop het, is die diewe met die kar weg.”

Hy ry sekondes later met die kar weg.

Eers toe sy by die Mall uitkom, het sy agtergekom haar kar is gesteel en het sy die opsporingsmaatskappy in kennis gestel.

Mnr. Appelgryn was besig by ’n kapingstoneel in Ogies toe hulle inligting ontvang dat die voertuig moontlik by ’n huis in Mineralia is.

Hy het dadelik vir mnr. Gerhard van Staden (Operasionele Streekbestuurder, Hi-Tech Asset Protection) gekontak om solank na die huis te gaan, totdat hyself in Middelburg kon uitkom.

Mnr. Van Staden het na die huis gery en alhoewel hy nie die voertuig kon sien nie, besef dat dit moontlik reeds in die motorhuis getrek is.
Hy het van ’n veilige afstand af die huis dopgehou tot mnr. Appelgryn en nog ’n lid van Moto Track, asook lede van die Middelburg K9 Honde-eenheid opgedaag het.

Lees ook:

Pastoor se Fortuner binne vier minute gesteel

Mnr. Van Staden het ’n verdagte vasgetrek en mnr. Appelgryn en die K9-lede het nog ’n verdagte in die huis vasgetrek.
Hulle was verstom met al die toerusting wat in die huis gekry is om dié spesifieke voertuie se seine buite aksie te stel.

Dit was ook duidelik dat die huis nie bewoon is nie, maar net gebruik is deur die diewe.

Buiten die toerusting, was daar net ’n televisiestelstel en Wifi-sisteem, asook ’n bed en klere in die huis.

Mnr. Appelgryn sê die huis is duidelik gebruik as plek om die voertuie in die motorhuis te stoor en om die opsporingstelsels uit te haal.”

Twee verdagtes is op die toneel gearresteer waar die gesteelde voertuig in ’n motorhuis weg gesteek is.

• In hul ondersoek het hulle gevind dat die diewe in twee voertuie in die omgewing van die vrou se kar gestop het en toe sy wegstap, dadelik toegeslaan het.

• Hy het verduidelik dat die kardiewe hulle toespits op die sleutellose voertuie omdat hulle met seinversterkers en -blokkers “baie maklik” die karre steel.

“Een loop ’n entjie agter jou aan met ’n seinversterker (booster) en tel so al die inligting van jou sluitstelsel op. Dit word dan oorgestuur na die seinblokstelsel, wat hulle in staat stel om jou kar se deur oop te maak, sonder dat jy naby hoef te wees met jou sluitstelsel.”

Omdat die voertuig aangesit word deur net ’n knoppie te druk, ry die boewe eenvoudig net daarmee weg.

• Hy het verneem dat daar verlede naweek ’n voertuig op dieselfde manier gesteel is in die parkeerarea van die Midwater Sentrum.

• Mnr. Appelgryn sê die voertuie wat veral tans deur die kardiewe geteiken word is: VX Landcruiser, Ford Ranger, Toyota GD6 Hilux en NP200 bakkies.

BusinessTech (die grootste besigheidsnuus webtuiste in Suid-Afrika) het in ’n artikel ook ’n lys beskikbaar gestel wat onder die top diefstalle tel. Dit is (begin by meeste gesteel) VW Polo, Toyota Hilux, Toyota Etios, Ford Ranger, Toyota Fortuner, Nissan NP200. Hulle meld dat Toyota Prado’s, Toyota Landcruisers en beslis die Hilux GD6 ook gewild is onder kardiewe.

• Volgens mnr. Appelgryn is daar wel ’n manier om dit vir die diewe moeiliker te maak om die voertuie te steel.

“Jy kan op aanlynbesighede ’n sakkie koop vir omtrent R300 wat hulle ’n IR Blocker Pouch noem. As jy jou sluitstelsel daarin sit, kan hulle nie die sein optel nie.”

Hy het ook genoem dat daar ’n ander, eenvoudige manier is, wat mense kan gebruik, terwyl hulle wag vir die sakkie wat hulle aanlyn koop.

“Voor jy wegloop van jou kar af, maak jou sluitstelsel toe in foelie en sit dit binne-in jou handsak of sak. Die foelie keer die oorspringseine na hulle toe.”

• Lourens Sithole en Tsepho Mokwena het reeds in die hof verskyn en die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

• Oud-Middelburger past. Renier Pelser, sekretaris-generaal Volle Evangelie Kerk, se Fortuner (wat hy in 2021 gekoop het) is Vrydag binne vier minute op dieselfde manier voor ’n besigheid in Gauteng gesteel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button