Hulle wat sal verstaan van ’n Deep Heat-gevulde-kleedkamer met natgeswete truie
Sybrand Botes (78) het Woensdagaand gedroom. Nie sommer so droom nie. Hy het in ’n rugbystadion gestaan saam met ander mense, ’n rugbyspan het op die veld gedraf en die spelers het sy hand een vir een geklap...

Die gewese Suidoos-Transvaal senter se droom versinnebeeld die entoesiasme van 21 April 2023 wanneer al die oud spelers wat die duifgrys trui aangetrek het, bymekaar kom.
Met die ouderdom wat die spelers inhaal en die bos wat leeggekap word, sal dit waarskynlik die laaste reünie wees.
Vir talle van die spelers gaan dit nie net ’n onthoudag wees nie, dit gaan ’n terugbeskouing wees op ’n fantastiese rugbylewe, wat seker net die mense sal verstaan wat in ’n Deep Heat-gevulde-kleedkamer met natgeswete truie, kringetjie maak.

Sybrand is die oudste speler wat tot dusver laat weet het hy gaan die reünie bywoon.
Hy het ’n jaar nadat die Suidoos-Transvaal Rugby-unie in 1969 gestig is, op 27 Junie 1970, vir Suidoos teen Noord-Vrystaat in ’n Paul Roos- wedstryd op Witbank gespeel. Suidoos het 11-16 verloor.
Aan die begin was sy sentermaat George Killian.
Hy was ook in aksie vir die Suidoos span wat teen Transvaal B gespeel het in 1970 in ’n voorwedstryd toe die Transvaal Wilson Winnery se All Blacks gepak het, asook die wedstryd teen Colin Meads se Waitete span.

Voordat hy die Topsport sportwinkel vanaf 1975 tot 1985 besit het, het Sybrand by Southern Cross (Columbus Stainless) gewerk. Ander Southern Cross werknemers wat daardie tyd vir Middelburg Rugbyklub gespeel het was Erie Pretorius, Piet Pretorius, Frans Minnaar, Schalk Breytenbach, Fires van Vuuren, Jumbo van der Merwe en Gert Richter.
Schalk Breytenbach (nou 82), wat later ook vir Suidoos gespeel het, was Sybrand se sentermaat by die klub. Hy is in ’n tehuis vir bejaardes in die Kaap en sal nie die reünie kan bywoon nie.

Sybrand se loopbaan het van 1970 tot 1975 gestrek en hy het 11 wedstryde vir die provinsie gespeel.
Die span van 1970 was: Manie de Jager, Basie Erwee, George Killian, Sybrand Botes, Kobus Ferreira, Koos Nel, Rupert Hector (k), Jan Taljaard, Douw de Jager, Robert Honeyborne, Corrie Fritz, Kleintjie Venter, Louis Kritzinger, Gert Delport, Org du Preez.
•Sybrand se Topsport was ’n gereelde adverteerder in die Suidoos programme tydens tuiswedstryde met die slagspreuk: “Wanneer Suidoos-Transvaal teen Noord-Transvaal speel, is Suidoos my span, wanneer die Westelike Provnise teen Noord-Transvaal speel, is Suidoos-Transvaal nogsteeds my span”.Alle oud Suidoos spelers (diegene wat die duifgrys trui met varkoor gedra het) en hulle gades (die amateurera) word na ’n reünie uitgenooi op 21 April in die Mbombela Stadion op Nelspruit.

Spertyd vir besprekings is 12 April en vir verblyf moet Annette Venter by Indabushe 083 259 0419 gebel word. Spelers kry 40% afslag.
Daar gaan busvervoer vanaf Indabushe na die stadion beskikbaar wees.
Om die reünie by te woon bel Tobie van den Bergh by 072 220 1568, Gert la Grange 083 702 5163 Richard Cooke 083 263 6938 of bespreek by Arrie Myburg by 082 786 5894 of e-pos arriemyburg@gmail.com.