Juwele en wapens kan jy vervang, maar nie ’n lewe nie
Werkers is vasgemaak tydens rooftog op plaas.

Al is haar juwele en hul wapens gesteel, is ’n vrou dankbaar dat hul werkers en honde nie beseer is tydens ’n rooftog op ’n plaas buite Belfast nie.
“Juwele en wapens kan jy weer koop, maar ’n lewe kan jy nie vervang nie,” het me. Tanja (Tatiana) Engelbrecht gesê.
Hul werker en sy vrou is gister by die Engelbrechts se huis oorval en vasgemaak.
Die werker het na die rooftog met sy hande nog vasgemaak na die buurwerkers gehardloop om hulp te ontbied. (Die werker en sy vrou se name word weerhou weens veiligheidsredes).
Me. Engelbrecht het vertel van die traumatiese gebeure op die plaas in die Kwaggaskop omgewing (Belfast/Stoffbergpad).
Die werker en sy vrou het ’n woonstel by die Engelbrechts se huis en die werker se vrou het hom geroep om te kom kyk na ’n siek boerbok.
Lees ook
https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/03/30/aanvallers-steeds-op-vrye-voet/
Hy het na die bok omgesien en toe hulle by die woonstel ingaan, het die vier rowers hulle ingewag.
Die man en vrou se hande is vasgemaak, waarna een van die rowers by hulle wag gehou en die ander drie na die Engelbrechts se huis toe is.
Hulle het eers by een deur probeer inbreek, maar toe hulle nie regkom nie, het hulle ’n ander veiligheidshek en deur oopgebreek.
Met ’n kantstyner, wat hulle in mnr. Engelbrecht se gereedskapkas gevat het, het hulle die een kluis oopgesny, waar hulle afgekom het op die ander kluis se sleutel.
In die groter kluis het hulle die wapens, asook me. Engelbrecht se juwele en kontant gevat.
Die werker het op ’n stadium gedink die rowers is weg en het by hul woonstel probeer uitgaan om hulp te ontbied, maar die een rower was nog buite en het hom teruggejaag by die woonstel in.
Na ’n hele ruk het hy weer gehoor dit is stil, waarna hy uitgegaan en na die buurplaas gehardloop het vir hulp.
Hy en sy vrou het nie ’n voertuig gesien of gehoor nie en die vermoede bestaan dat die booswigte te voet daar aangekom en ’n wegkomvoertuig iewers anders vir hulle gewag het.
Veiligheidsgroepe het dadelik mobiliseer en die area saam met die polisie gefynkam vir die rowers. Die polisie het tot laat gister nog in die omgewing na die rowers en leidrade gesoek.
• Me. Engelbrecht het al die polisie, asook al die veiligheidsgroepe en ander persone bedank wat gister (30 Maart) probeer het om die booswigte vas te trek.
“Die oomblik toe ons by die huis kom, was daar reeds mense wat vir ons gewag het om ons en ons werkers te ondersteun. Ek kan net dankie sê vir elkeen.”