Rower lyk soos dief wat sleepwaligte verkoop
Man glo kabels en ligte wat hy gekoop het, is gesteel.

Sowat drie weke gelede het ‘n inwoner die sleepwaligte van ‘n boot by ‘n man gekoop, wat blyk dieselfde rower te wees wat al drie keer die Shell Vulstasie beroof het.
“Ek het die artikel op die webtusite gelees oor die man wat die vulstasie beroof het en dit is beslis hy! Ek het hom dadelik herken! Hy het ook die hoedjie opgehad!”
Die inwoner (wat verkies om anoniem te bly) sê hy is kort nadat hy die ligte gekoop het, in die hospitaal opgeneem en het nou eers kans gehad om die eienaar daarvan te probeer opspoor.
Hy vertel dat hy en sy vrou drie weke gelede op die hoek van Cowen Ntuli- en Walter Sisulustraat ‘n man met ‘n trollie sien loop het.
Die man het oor die pad geloop terwyl hulle gedraai het in Walter Sisulustraat in.
“Toe hy by ons voertuig verby loop, het hy vir my baie honger gelyk. Ek het vir my vrou R20 gegee om vir hom te gee om iets te koop om te eet.”
Die man het egter tot by hul venster geloop met sy trollie en het hulle dadelik opgemerk dat die trollie vol artikels gelaai is.
Hulle kon egter nie sien wat dit was nie, aangesien hy swartsakke daaroor getrek het.
Hy het die boonste swartsak effens oopgetrek en vir hulle die sleepwaligte, wat nog aan hul kabels vas was, gewys.
Die egpaar het vir hom gevra waar hy dit gekry het, maar hy het net gesê hy het dit in die veld opgetel.
“Daar was egter geen stof op die kabels of die ligte nie.”
Hy het ook beduie dat hy van Kanonkop en Dennesig se kant af gekom het.
Hulle het besluit om te dit te koop en dit dan aan die eienaar terug te besorg.
Die man met die trollie het dit vir R100 aan hulle verkwansel.
“Daardie kabels en ligte is baie meer as dit werd!”

- As enige persoon die kabels met sleepwaligte vermis, bel of stuur ‘n WhatsApp na die Observer se bystandnommer by 072 248 3855.
- ‘n Verdagte is kort na die laaste rooftog by die Shell Vulstasie hierdie week gearresteer.