Advokaat het moordenaars se turf laat sit
Senior staatsadvokaat Erik van der Merwe, die man wat moordenaars se turf laat sit het, het vir die laaste keer sy swart toga van sy skouers afgehaal.

Hy het grootgeword in Ogies waar sy pa, André, ’n apteker was en sy ma, Kotie, ’n onderwyseres.
Na sy laerskooldae in Ogies is hy na Hoërskool Middelburg, waar hy in 1975 gematrikuleer het.
Vandaar het hy regte studeer aan die Universitiet van Pretoria.
In 1981 het hy die grade BA regte en LLB behaal en na twee jaar se diensplig het hy in Middelburg begin werk as ’n aanklaer.
“Ek was ook ’n landdros vir ’n paar maande.”
Daarna was hy streekhofaanklaer in Middelburg en in September 1989 is hy aangestel as ’n staasadvokaat in Pretoria by die Prokureur Generaal se kantoor, soos dit destyds bekend was.
In 1991 is hy aangestel as ’n senior staatsadvokaat in die Pretoria kantoor, waar hy gewerk het tot 2018 toe hy aangestel is as ’n waarnemende adjunk van Openbare Vervolging in Mpumalanga. In 2019 is dié kantoor in Middelburg oopgemaak en was hy in beheer.
Sy aanstelling as waarnemende adjunk het verstryk in 2020, maar hy het by die Middelburg kantoor bly werk as ’n senior staatsadvokaat totdat hy afgetree het.
Tot 2019 het Mpumalanga onder die Pretoria kantoor geval en het die advokate van die Pretoria kantoor al die vervolgings in Mpumalanga gedoen.
Adv. Van der Merwe het die meeste van die sake in Middelburg en omgewing in die hooggeregshof aangekla.

In die bedrywige lewe van ’n aanklaer, is daar nie altyd tyd vir stokperdjies nie, maar adv. Van der Merwe het tyd gemaak om te oefen.
Hy is ’n ywerige drawwer en het al 15 keer die Comrades gehardloop en meer as tien keer die gewilde Loskop Marathon kaf gedraf.
Adv. Van der Merwe is ook lief vir fietsry en het die Argus fietswedren in die Kaap meer as tien keer voltooi.
•Adv. Derik Rowles, wat vir jare saam met hom gewerk het, het gesê dat adv. Van der Merwe “die tipe aanklaer was wat nie gewerk het vir die kollig nie, maar net bloot om soveel as moontlik goeie goed te doen, om die breë gemeenskap te beskerm.”
Hy het hom beskryf as “een van die bekwaamste, deeglikste en hardwerkendste aanklaers wat ek in meer as 30 jaar diens, teëgekom het.”
Adv. Rowles sê adv. Van der Merwe was ’n aanklaer wat mense met deernis behandel het, “maar terselfdertyd ’n skelm genadeloos in ’n knoop kon draai.”
Diegene wat die voorreg gehad het om saam met adv. Van der Merwe te werk, sal kan getuig watter voorbeeld van integriteit en werksetiek hy gestel het.
“Mens kon nie anders as om teen ’n verbysterende tempo by hom te leer nie.”
Adv. Rowles sê dat adv. Van der Merwe meer as net ’n gefokusde aanklaer was.
“Hy het geweldig baie omgegee vir sý mense. Sy kollegas. Daarom was dit nie net ’n voorreg om saam met hom te werk en by hom te leer nie, dis ook ’n voorreg om hom my vriend te kan noem.”
Adv. Rowles het gesê dat daar baie aanklaers is, maar dat “daar ’n spesiale tipe aanklaer is wat net anders is. Daardie aanklaers wat uit die diepte van hul siele toegewyd is tot hul roeping, om die wêreld ’n beter en veiliger plek te probeer maak.
Daardie aanklaers vir wie aanklaer-wees nie is wie hulle is nie, maar absoluut wát hulle is. Erik van der Merwe is die hoofseun van daardie groep.”
Hy het afgesluit deur te sê dat: “Erik die aanklaers se aanklaer was. Hy het die Nasionale Vervolgingsgesag verlaat met die respek van almal wat saam met hom gewerk het in sy sak.”
’n Groot groep polisielede, waaronder ook verskeie oud-polisielede en aanklaers, het onlangs afskeid geneem van adv. Van der Merwe.
•Lees meer oor adv. Van der Merwe se suksesverhale in die Middelburg Observer uitgawe hierdie week.