News

Gestremde pasiënt begin hallisuneer en kry bedsere

Die gestremde Wimpie van der Merwe begin nou hallusineer en bedsere kry in die Middelburg Hospitaal.

“Ons was gister daar en hy is nou heeltemal deurmekaar. Ons weet nie of dit van pyn of van infeksie is nie. En oral op sy elmboë en heupe begin die rooi merke van bedsere!” het sy broer, Louis, vanoggend hartseer gesê.

Hulle het Wimpie op 28 Maart na die Witbank Hospitaal gehaas nadat hy gegly en sy heup gebreek het.

Nadat hy vir twee dae in die ongevalle afdeling van dié hospitaal gelê het, is hy oorgeplaas na die Middelburg Hospitaal, omdat daar nie vir hom ’n bed beskikbaar was nie. Boonop het die mediese personeel sy persoonlike benodigdhede, soos sy handdoek en waslap by die Witbank Hospitaal agtergelaat.

Sedertdien lê hy in die Middelburg Hospitaal, sonder dat ’n dokter hom gesien het.

Personeel van die Middelburg Hospitaal het hulle meegedeel dat hy nie hulle pasiënt is nie en dat ’n dokter van eMalahleni hom daar moet kom sien.
Uit pure radeloosheid het die familie verlede week die Middelburg Observer genader, omdat hulle nie meer geweet het watter kant toe nie.

“Die hoof uitvoerende beampte van die Witbank Hospitaal sê daar is elke dag ’n dokter wat hom sien. Die Middelburg Hospitaal se personeel sê hulle wag vir die dokter en die ‘Green Team’ wat hom moet kom haal om geopereer te word!” het mnr. Van der Merwe gesê.

• Hulle het tydens hul besoek gister, vir Wimpie gebad en room gesmeer om die verspreiding van die bedsere te voorkom, maar hulle weet dat dit nie sal help, tensy hy gereeld gedraai word nie.

“Die personeel het hom Vrydag in traksie gesit, so nou gaan hy nóg minder gedraai word en gaan hy vinnig bedsere oral begin kry!”

• Die familie het pas weer navraag gedoen by die Middelburg Hospitaal, wat beloof het dat ’n dokter hom teen Donderdag sal kan sien, maar hulle wonder of dit gaan realiseer, “want dit is Paasnaweek!”

• Nadat die kwessie verlede week onder die provinsiale gesondheidsdepartement se aandag gebring is, het die familie gesê dat een van die personeellede aggressief gevra het waarom hulle die provinsiale kantoor gekontak het.

Daar is ook vir die familie gesê dat die berigte wat gedoen is, onwaar is, maar mnr. Van der Merwe het hulle daarop gewys dat hy met die media gepraat het en wat geskryf is, die weergawe is wat hy vir ons gegee het.

• Daar is twéé keer verlede week by die provinsiale gesondheidsdepartement se mediakantoor navraag gedoen oor wat gedoen kan word.
Mnr. Christopher Nobela (woordvoerder) wou dadelik weet wie die personeellid was wat ongeskik was met die familie en het ook onderneem om dit te ondersoek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button