Man wat na bewering saamgesweer het om Raymond Papapavlou te vermoor aangekeer
Die man wat na bewering saamgesweer het om Raymond Papavlou (28) te vermoor, is Saterdag by die Winterveld paroolsentrum gearresteer.
Phillip Manchidi het vanoggend vlugtig in die landdroshof op Groblersdal verskyn en bly in aanhouding tot 13 April vir formele borgaansoek.
Manchidi was uit op parool na hy in die gevangenis was vir ’n ander moord en transitorooftogte.
Papapavlou is op 4 Oktober 2020 op die plaas Rooikraal, tussen Groblersdal en Stoffberg, in sy bed doodgeskiet.
Die ma en seun, Calvin Tseka (31) en Paulinah Mamalope Mafatle (57), wat ook daarvan beskuldig word dat hulle saamgesweer het om Papapavlou te vermoor, het vroeg in Januarie borg van R2 500 elk gekry. Mafatle was Manchidi se vriendin.
Tseka se borgvoorwaardes het bepaal dat hy twee keer per week by die Silverton Polisiestasie aanmeld, omdat hy by sy werksplek gearresteer is en sy ma se woning te klein is vir hom om ook daar te bly.
Tseka en Mafatle is in Augustus verlede jaar in Gauteng in hegtenis geneem op aanklag van sameswering om moord te pleeg.
(Tseka is Mafatle se biologiese seun).

Die ondersoekbeampte, adjudant offisier Debbie van Zyl, het tydens hul borgaansoek getuig dat beide Tseka en Mafatle telefoonkommunikasie met Patricia Ray-Lee Smith en Simoné Papapavlou gehad het. Hulle het ook glo beide fondse van Smith ontvang, voor Raymond se moord.
Smith het ’n liefdesverhouding gehad met Simoné, Raymond se vrou. Daar is verlede jaar in die hof getuig tydens Simoné se borgaansoek, dat die verhouding die motief was vir Raymond se moord, aangesien hy in die pad gestaan het van hul verhouding.

Smith is kort na Raymond se moord in hegtenis geneem en Simoné byna ’n jaar later.
Ná ’n lang hofstryd is Simoné op borg van R15 000 vrygelaat. Haar mede-beskuldigde, Smith, is uit op borg van R5 000.
Adjudant Van Zyl het getuig dat Simoné en Patricia op 22 Februarie 2020 vir Shane Richard Dean Olivier in die Kgosi Mamupru II-tronk in Pretoria gaan besoek het.
Olivier is die biologiese pa van Simoné en dien lewenslange gevangenisstraf uit vir die moord op sy broer.
Adjudant Van Zyl het getuig dat Olivier in sy verklaring as staatsgetuie gesê het dat Patricia en Simoné gevra het of hy iemand ken wat Raymond kan vermoor. Olivier het na bewering vir Manchidi, wat ’n medegevangene was, aanbeveel.

Sy het ook in haar getuienis gesê dat Olivier toe vir Manchidi genader het en reëlings getref is dat Simoné en Patricia met Tseka en Mafatle in kontak kom vir betalings.
Bankstate het getoon dat Smith vir Mafatle deur “Money Market” betaal het en Tseka is betaal van Capitec-bankrekening na Capitec-bankrekening, is getuig.
Adjudant Van Zyl het ook getuienis gelewer dat Tseka vanaf 29 September 2020 tot 4 Oktober 2020 in kontak was met die huishulp van Raymond op Rooikraal.
Sy het gesê dat hy glo kontak gemaak het met die huishulp op 4 Oktober 2020 22:25 en dat sy selfoon daarna afgeskakel is tot 6 Oktober 2020.
Volgens haar is Raymond op 4 Oktober 2020 omstreeks 22:50 vermoor.
Sy het getuig dat Simoné en Smith in telefoonkommunikasie was met Tseka en Mafatle ná die besoek aan Olivier tot kort voor Raymond se moord.
Volgens haar het Mafatle aan haar gesê dat Manchidi haar kêrel is. Daar is talle rekords van telefoonkommunikasie tussen dié twee.
Adjudant Van Zyl het beweer dat die moord op Raymond maande lank deur sy vrou, Simoné, Olivier en vriendin, Smith, beplan is.
Olivier is intussen na ’n ander gevangenis oorgeplaas, aangesien hy ’n wraakaanval vrees, het adjudant Van Zyl getuig.
•Daar word verneem dat Simoné Papapavlou deesdae op eMalahleni woon.

