Generaal poseer saam met omstrede groep, sê wil nie “ongeskik wees nie”
Generaal Izak van Zyl, leier van die Boerelegioen, sê daar was niks “onderduims” aan sy bywoning van ’n gala-aand by ’n spoghotel, waar gaste soos Carl Niehaus, oudpresident Jacob Zuma se dogter Rejoice Zuma, die minister van sosiale ontwikkeling Lindiwe Zulu en die omstrede diamantsmous Louis Liebenberg en sy vrou Dezzi, saam hom op die eregaslys was nie.

Van Zyl sê hy het bloot die uitnodiging aanvaar en Die Waarheid Media se bekroningsaand vir talentvolle Afrikaner skrywers terdeë geniet.
Vanjaar se gala is by die vyfster D’Oreale Grande Hotel by Emperors Palace aangebied.
Wilhelm Pretorius van die destydse Boeremag wat deesdae opleidingskampe aanbied, was ook op die gastelys.
Pretorius, Niehaus en Zulu het spreekbeurete tydens die geleentheid gehad.
Van Zyl ontken dat die geselskap getrakteer is met drie nagte by die spog hotel, en dat die meerderheid gaste die hotel die oggend na die gala ontruim het.
“Ons het net een aand oornag, maar verskeie gaste wat ver gereis het, het verkies om langer aan te bly,” sê Van Zyl.
Van Zyl, wat self by Liebenberg se diamantskema ingekoop het, en intussen ’n noue vriendskap met die diamanthandelaar gesmee het, sê nog hy nog die Boerelegioen kan pa staan vir Liebenberg se assosiasies, wat politieke figure soos Jacob Zuma insluit.
“Hy bring soveel diverse groepe by mekaar, groepe wat Afrikaans op die aand vereer het, dis merkwaardig,” sê Van Zyl.
Hy sê dat die Boerelegioen nie ’n verregse, paramilitêre of politieke groep is nie, maar eerder ’n ondersteuningsnetwerk vir huidige wetstoepassers wat anargie en verval wil teewerk.
“Ons fokus wel op boere omdat dit ’n minderheidsgroep onder beleg is,” sê Van Zyl.
Van Zyl, wat self ’n tweede generasie polisieman was, sê dat Liebenberg die deure wyd oopswaai vir groepe soos die Boerelgioen, om hande te vat met ander etniese groeperings, “om saam ’n land van melk en heuning teweeg te bring”.
“Ons beveg misdaad en korrupsie,” het hy duidelik gemaak tydens ’n onderhoud oor sy bywoning van die vyfster skouerskuurdery wat uit beide liberale en konserwatiewe kringe verdoem word.
Die skrywer Jean Oosthuizen het die aand onder meer as “kuier tussen trogvreters” beskryf.
Oosthuizen sê voorts “mens hoef nie ’n profeet te wees om te voorspel hierdie is ook ’n ongeluk wat wag om te gebeur nie, soos ’n fiets sonder remme en ketting by die Uniegebou steiltes af”.
Van Zyl het bevestig dat hy in sy hoedanigheid as “Generaal” van die Boerelegioen na die partytjie genooi is.
Aan Boerelegioen-lede het hy na die gebeurtenis geskryf: “Daar is gevra dat ’n groepfoto van die eregaste geneem word. Ek kon seker nie ongeskik wees en weier om te poseer vir die foto nie. BL is nie ’n verregse organisasie nie. Ons is ’n polisiërings instansie wat met alle mense en groepe skakel vir die doel van intelligensie, en die veiligheid van ons mense.”