Gestremde man nie voor Paasnaweek geopereer
Die gestremde Wimpie van der Merwe (62) se heupoperasie sal nie voor die Paasnaweek gedoen word nie.

“Ons is baie bekommerd oor hom, maar weens finansies kan ons nie elke dag van Kriel af na hom toe ry nie. Ons het vir hom room en badgoedjies by die Middelburg Hospitaal gelos,” het sy broer, Louis, vanoggend gesê.
Wimpie het ’n week en ’n half gelede gegly, geval en sy heup gebreek.
Nadat hy vir twee dae in die ongevalle afdeling van die Witbank Hospitaal gelê het, omdat daar nie plek in die hospitaal was nie, is hy oorgeplaas na die Middelburg Hospitaal.
Wimpie was met hul laaste besoek by hom baie deurmekaar.
“Die Middelburg Hospitaal doen wat hulle kan. Sy kamer is skoon en netjies en hulle het hom in traksie gesit weens die heupbreek. Hulle gee ook vir hom iets vir pyn en hy kry kos. Hulle kan egter nie méér doen nie, want hy is eintlik Witbank Hospitaal se pasiënt.”
Mnr. Van der Merwe het genoem dat die hoof uitvoerende beampte van die Witbank Hospitaal hom wel gisteraand ingelig het dat Wimpie darem nou deel is van die ‘Red Team.’
“Ek weet nie wat dit beteken nie, maar daar is vir ons gesê dat hy nie voor die Paasnaweek geopereer kan word nie.”
• Alhoewel hulle vir hom room en badgoed gelos het, weet hy nie of dit genoeg gaan wees totdat hulle weer kan kom nie.
Daar is gevra of Wimpie enigiets anders benodig.
“Ou Wimpie is lief vir koekies en dalk ’n botteltjie water of koeldrank. Ietsie lekkers om te eet, sal ook welkom wees.”
• Persone wat ’n pakkie vir Wimpie wil koop, kan dit tydens besoektyd vir hom vat of afgee by die Middelburg Observer se redaksiekantoor of bel Daleen Naudé by 013 243 1434.