News

Ooggetuie sien hoe swaargewapende polisie verdagtes oor kruising jaag

’n Vrou het paniekerig haar voertuig in trurat gesit en weg gejaag, toe sy gesien het hoe verdagtes oor ’n kruising jaag, met talle polisievoertuie agterna.

Me. Chantal Derksen het ook ’n skoot hoor klap, maar daar was klaarblyklik geen geweervuur tussen die verdagtes en die polisie nie. Die vermoede bestaan dat ’n klapper of bomklapper op presies dieselfde tyd geskiet is.

Me. Derksen vertel dat sy kort voor 15:00 in Lilian Ngoyistraat opgery het vanaf Kanonkop se kant in die dorp se rigting.
Sy was in die regterbaan en in die linkerbaan was ’n paar voertuie wat net wou wegtrek, omdat die lig na groen oorgeskakel het.

Die volgende oomblik moes sy vinnig remme aanslaan, want ’n donkerkleurige bakkie het van die regterkant, van Laerskool Middelburg se kant af oor die rooi verkeerslig by Joubertstraat in gejaag.

In ’n breukdeel van sekondes het me. Derksen talle voertuie gesien wat agter die bakkie aangejaag het.

“Ek weet nie of dit nog ’n verdagte voertuig of die polisie was wat langs die bakkie ingekom het nie, maar net verby die kruising het die ander voertuig langs hom gestop.”

Hierna het die kruising en die plek waar die bakkie tot stilstand gekom het, gewemel van polisielede.

“Ek het nie polisiebakkies gesien nie, maar dit moes duidelik polisielede gewees het, want agterop een van die bakkies het ’n klomp mense gesit met koeëlvaste baadjies en masjiengewere.”

Die kruising en die area waar die bakkie afgetrek het, het binne sekondes gewemel van polisielede.

Tydens die jaagtog van die verdagte- en polisievoertuie, het sy uit die hoek van haar oog opgemerk dat die mense in die linkerbaan ook alles sien gebeur het.
Die persoon in die voorste voertuig, ’n Toyota Corolla, het uit pure skok sy voertuig in trurat gesit en vasgery in die Mitsubishi wat agter hom gestaan het.

Me. Derksen het ook besluit dit sal veiliger wees om te geepad en het self ook in trurat agteruit gejaag (daar was niemand agter haar nie).

Sy het ingetrek by die Sasol Vulstasie en almal gemaan om na ’n veiliger area te ry. “Daar het oral mense gestaan en ek het vir hulle gesê hulle moet geepad, want netnou word iemand raakgeskiet!”

• Minute later het ’n ander inwoner (wat anoniem wil bly) gesien hoe die polisie met vier verdagtes by die polisiestasie inkom.

“Twee was beseer en hulle het aangedui dat hulle die mans hospitaal toe gaan neem vir behandeling. Hulle was nie ernstig beseer nie, want hulle het nog saam met die polisie uitgeloop.”

• Daar is verneem dat die twee mans wat hospitaal toe geneem is, nie skietwonde gehad het nie, maar ligte beserings wat moontlik opgedoen kon gewees het toe hulle in drade vasgehardloop het. Die een is dadelik na behandeling weer saam met die polisie geneem en die ander een is vanoggend terug na die polisie toe vir ondervraging.

• Die verdagtes is nog nie formeel aangekla nie en die polisie is klaarblyklik nog besig met ondervraging en hul ondersoek.

• Na aanleiding van wat die persoon in die polisiestasie gehoor en gesien het, blyk dit dat lede van die Valke, Misdaad Intelligensie en lede van die Middelburg Polisiestasie die vier verdagtes gejaag en ingeneem het vir ondervraging.

• Die vier verdagtes wat ondervra word, het moontlik te doen met die voorval waar twee polisiemanne Maandag op die Stoffbergpad geskiet is.

Lees ook:

Hawks launch manhunt for police killers

Speursersant Simon Mbonani (43) is Maandag doodgeskiet en sy kollega, sers Magubane, word steeds in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal behandel, nadat daar Maandag in die vroeë oggendure op hulle losgebrand is op die Stoffbergpad.

Kapt. Dineo Sekgotodi (Valke woordvoerder) het na die voorval in ’n mediaverklaring gesê dat die Middelburg Misdaad Intelligensie-eenheid inligting ontvang oor dieseldiefstal by ’n myn. Die twee polisiebeamptes het soontoe gery, waar hulle ’n geel dieseltenkwa gesien het, wat van die toneel af weggery het.

Terwyl hulle probeer het om die tenkwa te stop, het die verdagtes in die tenkwa op die twee polisiemanne losgebrand.

Sersant Mbonani het op die toneel aan sy beserings beswyk, en sers. Magubane is later na die hospitaal vervoer vir mediese behandeling.
Ondersoekers het drie pistole met 25 rondtes ammunisie en vyf selfone op die toneel gevind.

• Daar is verneem dat daar ten minste 19 patroondoppies op die toneel gekry is, almal wat deur die verdagtes afgevuur is.
Sedert die aanval op die polisielede het die polisie onverpoos gewerk om verdagtes in verband met die voorval aan te keer.

• Sersant Mbonani was 16 jaar in die polisiediens en sy gedenkdiens word vandag gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button